Legendariese Pretoriase rugbyklub herleef

Die herlewing van die legendariese rugbyklub Pretoria is pas in die Hoofstad aangekondig – 130 jaar ná sy stigting in 1888.

In weerwil van sy roemryke verlede het die klub ʼn klompie jare gelede doodgeloop, nóg een van die slagoffers van die spel se toetrede tot die beroepsbedeling.

Luidens die aankondiging sal die klub drie spanne in die Blou Bulle se Carlton-B-liga inskryf, en ook ʼn span in die o.20-liga.

Neels van Heerden, ʼn gewese voorsitter van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) se rugbyklub, is die herstigte klub se president, Jaco Basson die voorsitter, en Jay J Botes die klubbestuurder.

Daar word beoog om Pretoria se 130ste verjaardag paslik te vier, en die besonderhede hieroor sal binnekort bekend gemaak word.

Loftus Versfeld, na wie die Blou Bulle se hoofkwartier heet, het die voortou geneem om die destydse klubs in die stad in ʼn enkele sterk klub saam te snoer.

Die klub was met die instelling van die Transvaalse Rugbyunie (TRU) se Grootuitdaagbeker in 1889 die eerste wenner daarvan, en het dit uiteindelik agt keer gewen en een keer gedeel.

Sedert Noord-Transvaal se afstigting van die TRU in 1938 het Pretoria die Carltonbeker sewe keer gewen en twee keer gedeel.

Beroemde Springbokke soos Paul Roos, Dietlof Maré, Theuns Kruger, Nic Bierman, Salty du Rand, Stompie van der Merwe, Thys Lourens, John Williams, Louis Moolman en Joost van der Westhuizen het vir die klub gespeel.

ʼn Eerste minister, Hans Strydom, ʼn minister, Willie Collins, en ʼn Boeregeneraal, Christiaan Beyers, tel tussen die ander bekendes wat vir Pretoria se eerste span gespeel het.

Luiperds

♦ Die Luiperds-rugbyunie (LRU) het intussen bekend gemaak dat sy Presidentsliga (Klerksdorp, Lichtenburg, Potchefstroom-dorp en Vaal Reefs) van 3 tot 17 Maart uitgespook word.

ʼn Nuwe Distriksliga wat in vier groepe tussen die res van die klubs beslis word, sal bepaal wie op die ou end in die Neser- en Jaap Steynligas sal speel.

Die Arthur Breakfastliga vir ontwikkelingspanne duur van 7 April tot 25 Mei.

Griffons

♦ Die Griffons-Luiperdsoorgrensliga word vanjaar deur ses klubs betwis: Welkom, Welkom Rovers, Odendaalsrus (Griffons), Klerksdorp, Potch-dorp en Vaal Reefs (Luiperds).

Dit skop op 7 April af en die eindstryd is vir 7 Julie bepaal.

Griekwas

♦ Griekwas se Superliga A [Kimberley, Postmasburg, Sishen, United (Upington), Upington-dorp en Young Tigers (Calvinia)] begin op 7 April en die eindstryd word op 4 Augustus beslis.

Die Superliga B word deur spanne in ooreenstemming met die eertydse subunies beslis. Die eerste wedstryde is op 23 Junie en die eindstryd op 28 Julie.

Die deelnemende spanne is Kimberley, Logan, Namakwaland, Oranje, Pixley (min of meer die ou Conroy-subunie) en Van Druten.

Vriendskaplik

♦ Colin Booysen, die spanbestuurder van East Rand United (ERU), laat weet dié Valkeklub het Unie (Goue Leeus) met 40-11 in ʼn vriendskaplike wedstryd verslaan (rustyd 24-6).

ERU neem later vanjaar as promotorskeuse aan die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker deel.

Sy tweede span het met 24-0 gewen, die derde met 17-12 en die o.21-span met 63-5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.