Legendariese Springbok sterf aan hartaanval

Sid Nomis, tweede van regs, saam met oud-Springbokke Morne du Plessis, James Small en Krynauw Otto. (Foto: Twitter/Saru)

ʼn Legendariese Springbokagterspeler, en een van die beste Joodse rugbyspelers ter wêreld, is Saterdag in Johannesburg aan ʼn hartaanval oorlede.

Sid Nomis (76) se linkerbeen is agt jaar gelede, op besoek aan sy seun in Switserland, net bo die knie afgesit toe ʼn bloedklont in die been sy lewe bedreig het.

Hoewel hy ses drieë in sy 25 opeenvolgende toetse (lank ʼn Bokrekord) van 1967 tot 1972 gedruk het, word hy veral vir die laaste een onthou – ʼn onderskepdrie ná ʼn lopie van 60 meter in 1970 se eerste toets teen die All Blacks op Loftus Versveld, Pretoria.

Dit was dié slag toe die vermaarde radiokommentator Gerhard Viviers nie verder as die kreet “Siddie, Siddie, Siddie …” kon kom nie.

Met die telling 12-6 in die Bokke se guns, was die All Blacks besig om die oorhand in die kragmeting te kry en aan te val, toe Nomis ʼn aangee van die kaptein, Brian Lochore, onderskep en onder die pale gaan druk het. Ian McCallum het dit verdoel en die Bokke het die magtige All Blacks met 17-6 hul eerste nederlaag in vyf jaar toegedien.

Nomis was in die tweede toets weer in die nuus toe hy twee tande verloor het toe hy met die All Black-heelagter Fergie McCormick (hy is twee maande gelede aan keelkanker oorlede) se elmboog te doene gekry het.

Daar word vandag nog getwis of dit vuilspel of ʼn ongeluk was.

Ironies genoeg was die skeidregter, Wynand Malan, ʼn tandarts van beroep, en het hy daar en dan die beseerde se tande reg rangskik, en hy het met ʼn bloeiende mond die wedstryd voltooi.

Nomis het jare later nog las met sy gebit ervaar.

Hy het in 1965 saam met die Bokke in Australie en Nieu-Seeland getoer, maar sy toetsbuiging eers in 1967 as buitesenter in die vierde toets teen die Franse gemaak, in die plek van nóg ʼn Boklegende, John Gainsford. In sy vierde toets, teen die Britse en Ierse Leeus van 1968, het hy linkervleuel toe geskuif, voor hy teen Skotland in 1969 vir sy laaste 14 toetse na regtervleuel geskuif het.

Nomis het in 1969 twee drieë in die eerste toets teen Australië gedruk. Sy ander toetsdrieë was teen die Leeus (1968), Frankryk (1968) en Wallis (1970).

Sy dramatiese drie teen Frankryk in die tweede toets in Parys het die Bokke gehelp om die kragmeting met 16-11 te wen.

Hy het die bal vorentoe geskop, en as gevolg van ʼn kramp twee keer op pad doellyn toe gestruikel, en letterlik die laaste paar treë gekruip om sy hand op die bal te plaas en die drie te druk.

Naas die toetse het hy die Bokke in 27 toerwedstryde verteenwoordig, waarin hy nege drieë gedruk het.

Nomis het die klubs Old Jeds en Wanderers verteenwoordig, en 26 drieë gedruk in die 54 wedstryde waarin hy Transvaal van 1963 tot 1973 verteenwoordig het. Hy het in 1966 saam met die Gaselle in Suid-Amerika getoer, en ook vir die Kwaggas gespeel.

In 1999 is hy in die Internasionale Joodse Sportheldesaal in Netanya, Israel, vereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael ·

Totsiens aan n groot held Ek onthou daardie elbow lopie (tackel) soos gister ek was as n jong seun op Nuweland daar die dag Rus in vrede SIDDIE

Arno ·

Kan iemand miskien vir my vertel van die betekenis van die term “vermaarde” soos in die teks gebruik?

Piet Ebersohn ·

Dagsê, Arno.
Baie dankie vir jou navraag. “Vermaarde” is `n ander woord vir “beroemde”.
Groete
Piet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.