Leinster looi Bulls in tweede helfte

Leinster het sewe drieë teen die Bulls in Dublin gedruk. (Foto: X/Leinster Rugby)

Die Bulls is een van die min spanne wat al met Leinster op sy tuisveld kon afreken, maar Vrydagaand was die Pretorianers veral in die tweede helfte nie opgewasse teen Ierland se bestes nie.

Leinster het die Verenigde Rugbykampioenskap-ontmoeting op die RDS-arena met 47–14 gewen nadat die besoekers ʼn rustydvoorsprong van 14–12 geniet het.

As dít ʼn maatstafwedstryd vir die Bulls was, is die Jakarandastad se rugbytrots geweeg en te lig bevind.

Tog het dinge so belowend op ʼn koue aand in Dublin begin.

Die voorspelers het hul man teen Leinster gestaan, Wilco Louw was ʼn wafferse skrummasjien en Kurt-Lee Arendse het oudergewoonte ʼn drie gedruk. Dan het Johan Goosen ook die telbord aan die gang met sy skopvoet gehou.

Die tuisspan het egter gaandeweg met meer ritme begin speel en as dít eers gebeur, kan besoekende spanne nie veel anders doen as om na sy pype te dans nie.

Jordan Larmour was ʼn doring in die Bulls se vlees en Leinster het veel gevaarliker op die aanval as die Pretorianers gelyk wat vanjaar daaraan gewoond is om drieë te druk.

Ja, daar was ʼn paar interessante skeidsregterbeslissings soos om Luke McGrath met net ʼn geel kaart van die veld vir sy koppestampsessie met Arendse te stuur.

Die Springbok-blits was hard op pad doellyn toe vir sy span se enigste drie toe die Leinster-skrumskakel in hom vasgehardloop het.

En dit was nie juis of McGrath probeer het om sy arms te gebruik om sy prooi plat te trek nie.

Maar skeidsregter Craig Evans het beslis dat die impak grotendeels op Arendse se lyf was en hy het ʼn geel kaart in die Leinster-man se rigting geswaai.

ʼn Arendse-driedrukpoging in die tweede helfte is aanvanklik toegeken, maar later herroep nadat daar bevind is dat hy kontak met Harry Byrne se rug gemaak het terwyl hy probeer het om die bal vorentoe te skop.

Bulls-ondersteuners kan sekerlik oor dié beslissings frons.

Was Leinster egter die beter span op die veld?

Ja.

  • Puntemakers:

Leinster: Drieë: Josh van der Flier, Ronan Kelleher, James Lowe, Michael Milne, Dan Sheehan, Jack Conan en Liam Turner. Doelskoppe: Harry Byrne (6).

Bulls: Drie: Kurt-Lee Arendse. Strafskoppe: Johan Goosen (3).

VRK-punteleer:

  1. Leinster: 54 punte ná 13 wedstryde
  2. Bulls: 45 punte ná 13 wedstryde
  3. Glasgow Warriors: 44 punte ná 12 wedstryde
  4. Munster: 39 punte ná 12 wedstryde
  5. Stormers: 35 punte ná 12 wedstryde
  6. Edinburgh: 34 punte ná 12 wedstryde
  7. Ulster: 34 punte ná 12 wedstryde
  8. Lions: 34 punte ná 12 wedstryde
  9. Connacht: 33 punte ná 12 wedstryde
  10. Benetton: 33 punte ná 12 wedstryde
  11. Ospreys: 30 punte ná 12 wedstryde
  12. Cardiff: 23 punte ná 12 wedstryde
  13. Scarlets: 16 punte ná 12 wedstryde
  14. Dragons: 15 punte ná 13 wedstryde
  15. Zebre: 15 punte ná 13 wedstryde
  16. Sharks: 14 punte ná 12 wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.