Leinster-man loof SA spanne

Steven Kitshoff in aksie teen Leinster. Foto: Hansie Linde.

Volgens Steven Kitshoff, die Stormers se Springbok-voorryman, is daar ’n rede waarom Leinster die septer op die Verenigde Rugbykampioenskap-puntelaar swaai: Die Iere is goed afgerig, hulle is fisieke spelers en hulle gee nooit tou op nie.

“Selfs al was van hul sleutelspelers nie deel van die aksie nie, het hulle steeds baie goeie rugby hier gespeel,” het die Stormers-kaptein gesê.

’n Jong Leinster-span het met 20 – 13 teen die Kapenaars verloor, terwyl hulle die vorige week ook met ’n moedige vertoning teen die Sharks vorendag gekom het.

Maar die Suid-Afrikaanse spanne het ook ’n indruk op die besoekers gemaak en Leo Cullen (Leinster-afrigter) meen dat die koms van die Bulls, Lions, Sharks en Stormers die perfekte doepa vir die VRK-reeks was.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor die Suid-Afrikaanse spanne en hopelik is daar nog baie vurige tweestryde op die horison,” het Cullen in ’n onderhoud met RugbyPass gesê.

Volgens die 44-jarige Cullen het hy nog altyd die vordering van Superrugbyspanne dopgehou en hy het heeltyd gewonder hoe Britse spelers teen die Suidelike Halfrond se grofgeskut sou vaar.

“Nou speel ons teen mekaar en dit is ’n ongelooflike ervaring.”

Die Bulls het die afgelope naweek met Glasgow Warriors afgereken. Foto: GB Jordaan.

“Ons was nogal op ons senuwees voor ons eerste wedstryd teen die Bulls – hulle het pas die Curriebeker gewen en Jake (White) is ’n uitgeslape afrigter met ’n paar slim planne. Soos reeds genoem is ons baie opgewonde oor die toekoms van die reeks; Suid-Afrika beskik oor talentvolle spelers.”

Drie plaasliks spanne – die Sharks, Stormers en Bulls – het reeds vir die reeks se uitkloprondes gekwalifiseer.

Selfs al word daar eers weer oor twee naweke teen Europese teenstanders gespeel, is die spelers oorgehaal om hul bes te gee.

“Ons moet nou die hele ent na Belfast (vir hul wedstryd teen Ulster) reis en dit beloof om ’n lekker uitdaging te wees. Ons het oorgenoeg voorbereidingstyd en ons wil ook goed weg van die huis vertoon,” het die Sharks se Gerbrandt Grobler ná sy speler van die wedstryd-vertoning teen Connacht gesê.

Daarteenoor wik en weeg White om sy sterre in die komende Curriebeker-wedstryde los te laat.

“Ons het geleer dat ons goed vertoon wanneer ons op ’n Woensdag en ’n Saterdag speel. Ek sê nie dat ons noodwendig elke keer hierdie roete sal volg nie, maar ons het byvoorbeeld ’n bietjie futloos teen Benetton gelyk nadat ons vir twee weke af was,” het die Bulls se direkteur van rugby gesê.

  • Komende bepalings:

20 Mei: Ulster teen Sharks (20:35); Ospreys teen Bulls (21:10)

21 Mei: Dragons teen Lions (16:00); Scarlets teen Stormers (18:10)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokkies

Hierdie Suid Afrikaanse spanne kan hulle baie gelukig ag. Van hulle 17 wedstryde, het hulle 12 op eie bodem gespeel en net 5 oorsee. In die geval het hulle nie die nadeel van “jet lag” nie. Die toestande oorsee is baie koud en soms speel die spanne in die sneeu. Selfs die gras vries daar. Hierdie naweek sal hulle eerste wedstryd in 10 weke oorsee wees.

SjN

Hoekom word daar niks berig oor die puik Wildeklawer skole reeks te kimberley week nie?