Leinster ruk na rustyd reg, druk vyf keer teen een

Leinster op die aanval teen die Kings (Foto: Twitter @OLSCRugby)

Hier en daar ʼn rapsie beter, in ander fasette weer nie so goed nie. Dit is seker  ʼn redelike opsomming van die Kings se Pro14-vertoning Saterdagmiddag in die Baai teen Leinster.

Die Iere het die wedstryd 31-10 gewen nadat hulle rustyd met net 7-3 voorgeloop het. Leinster kan hulle stewige verdediging daarvoor dank, want die Kings het in die eerste helfte, ondanks swak hanteerwerk, tog ʼn hele paar vrae van die besoekers gevra.

Hulle het die Iere veral hard in die vaste los laat werk en boonop minder omkeerbesit as in hulle eerste twee wedstryde afgestaan. Maar hoewel die omkeerbesit beter was, is 17 gevalle steeds te veel.

Die eerste helfte was egter hoogstens interessant maar het nie veel lekker rugby vir die min toeskouers opgelewer nie. Na rustyd het Leinster met ʼn bietjie meer ondernemingsgees en beter ondersteuning gespeel. Die Kings, daarenteen, het in veral die eerste tien minute na rustyd ʼn dissipline-probleem gehad en is deeglik vir hulle ongeoorloofde spel gestraf. Dit het die Iere uit benoude situasies laat ontsnap en die nuwe lewe in hul spel na rustyd het vir Leinster vrugte afgewerp.

Leinster se eerste drie is na net agt minute gedruk, maar hulle moes tot die 42ste minuut werk om weer te gaan druk. Nóg drie drieë het gevolg.

Hierdie vyf drieë, waarvan drie verdoel is, teenoor Jacques Nel se drie kort voor die einde vertel die verhaal van wie die beste span in ʼn wedstryd van middelmatige gehalte was.

Daar moes vroeër darem ook al ʼn drie vir die Kings gewees het. Hulle selfsugtigheid om die een na die ander van ʼn volgehoue reeks losskrums op die Leinster-doellyn self te probeer deurbreek en druk, is egter telkens gefnuik.

Die Kings se verdediging was beter as tot dusver, hulle afstaan van omkeerbesit toon ook ʼn keerpunt, en hulle het Leinster gedwing om 124 duikslae teen hul eie 84 te maak.

Maar om 13 strafskoppe af te staan en so met hanteerwerk te sukkel, is ook onaanvaarbaar.

Soos die Kings se kaptein Michael Willemse na die wedstryd gesê het: die tyd vir verskonings is nou verby.

Puntemakers –

Kings (3) 10:  Drie: Jacques Nel. Doelskop: Kurt Coleman. Strafdoel: Masixole Banda.
Leinster (7) 31: Drieë: Noel Reid, Rory O’Loughlin, Jack Conan, Joey Carbery, Dave Kearney. Doelskoppe: Ross Byrne 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.