Leinster se Nieu-Seelanders leer dure les

Die owerhede se besluit om twee Leinster-spelers toegang tot Suid-Afrika te weier, is net nóg ʼn bewys dat die Pro14-base die kar voor die perde gespan het om die Cheetahs en Southern Kings die seisoen reeds tot die reeks toe te laat.

Vanselfsprekend sou daar groeipyne met die nuwe reeks wees. Maar die besluit van die Suid-Afrikaanse owerhede om twee spelers Woensdagaand terug te stuur Ierland toe omdat hulle nie die nodige reisdokumente gehad het nie, laat egter die vraag of daar genoeg tyd was om na al die slaggate te kyk en hulle te probeer vermy.

Die veelsydige agterspeler Isa Nacewa, wat in Nieu-Seeland gebore is, maar een toets vir Fidji gespeel het, en die skrumskakel James Gibson-Park, is Woensdagoggend toestemming geweier om die land saam met hul spanmaats (die Iere het nie visums nodig nie) binne te kom, omdat die twee Nieu-Seelandse paspoorte het.

Leinster speel Saterdag in Port Elizabeth teen die Kings, maar Nacewa en Gibson-Park, wat die dag op  die lughawe deurgebring het, is Woensdagaand teruggestuur Ierland toe.

Ja, die Leinster-rugbybase moet sekerlik pa staan vir die tameletjie, want alle Nieu-Seelanders moes van die begin van die jaar af visums hê om die land binne te kom.  Onthou gerus ook dat Suid-Afrikaners ook visums moet hê om Nieu-Seeland binne te gaan.

Maar was Leinster, of enige ander span wat Nieu-Seelanders in hul geledere het,  bewus van die nodige visum-vereistes? Is dit ooit aan hulle genoem en bespreek?  Indien ja, moet hulle maar die houe op die ken vat.

Die ironie is dat Nacewa en Gibson-Park voorheen ʼn hele paar keer in die land was (toe visums nog nie nodig was nie) toe hulle nog Superrugby gespeel het.

Nacewa, wat sedert 2003 vir Leinster speel en reeds 176 keer vir die Ierse span uitgedraf het, het ook 44 Super-wedstryde vir die Blues gespeel. Gibson-Park het 29 keer tussen 2013/’15 vir die Blues en in 2016 ook 13 wedstryde vir die Hurricanes gespeel.

Nou is die dure les geleer: geen visum, geen toegang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Robert ·

Wel Pieter, kom ek sê vir jou hierdie goed is die spanbestuurder se verantwoordelikheid. Hy moet kyk na al die papier werk en die logistiese goed so ek lê die probleem voor sy/haar daar. Hierdie het niks te doen met die keuse van die 2 spanne om aan die pro14 deel te neem nie.

Jack Russl ·

Presies. Leinster het ook klaar erken dat hulle ‘n fout gemaak het

Ondersteuner ·

Dis die hoeveelste keer dat hierdie Pieter die Pro14 kritiseer oor die Cheetahs en Kings wat deelneem. Skryf dan eerder oor krieket of tennis.

Lol ·

Die Lions/ Bulls mense seker jaloers oor die situasie en miskien voel hulle moes daar speel? Volgens die afgelope Superreeks se uitslae moes Bulls eintlik hulle Superreeks status verloor het? Of maak Pieter nou al voorbrand dat Bulls / Lions in Pro-reeks ook ingesluit word ten koste van Kings en Cheetahs volgende jaar. Wil mos brood aan albei kante gebotter he? Alhoewel Kings en Cheetahs verloor in Pro- reeks speel hulle met baie moed en die oorsese spanne en toeskouers gee hulle krediet vir dit met die vol stadions daar.

Roelfie ·

Nou wat op dees aarde het die Cheetahs en die Kings hiermee te doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.