Leinster sukkel nie om ratte te verwissel

Leinster se James Lowe duik oor vir sy drie terwyl Embrose Papier probeer om hom te keer. (Foto: X/Leinster)

Leinster se vermoë om vinnig na ʼn hoër rat oor te skakel en munt te slaan uit sy teenstanders se foute maak van hom ʼn span van wêreldgehalte.

Die Bulls het Vrydagaand met 47–14 teen die Ierse klub op die RDS-arena verloor, maar Jake White meen dat Leinster nie oornag in ʼn kragreus verander het nie.

“Wanneer ek na hul plaasvervangerbank kyk, word ek aan die Springbokke se reserwes herinner. Dit is omtrent vir jou gelaai met internasionale spelers,” het die Bulls se direkteur van rugby gesê.

Die Pretorianers het ʼn rustydvoorsprong van 14–12 geniet, maar die tuisspan het 35 onbeantwoorde punte in die tweede helfte aangeteken.

“Dit mag dalk lyk of ons in die tweede helfte die pad byster geraak het, maar die Leinster-spelers het hul spel aansienlik in die laaste 40 minute gelig en ons sal beslis daaruit moet leer.”

Die Iere se uitstekende verdediging het ook blitsig enige Bulls-aanval in die kiem gesmoor.

“Die een ding wat Leinster se spel maar net weer onderstreep het, is die vermoë om die sprong van verdediging na aanvallende rugby te maak; dit is pleinweg ongelooflik. Hulle het elke fout wat ons gemaak het, gestraf.”

Die Bulls het al twee keer as oorwinnaars teen Leinster van die veld gestap – een keer in Dublin en een keer in Pretoria.

“Ons was gelukkig om hier in 2022 te wen en nou moet ons nederig wees wanneer ons verloor. Ons moet hieruit leer.”

Gelukkig wag daar nou vier Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde in Pretoria op die span voordat hulle op 1 Junie weer teen die Sharks in Durban kragte meet.

Bulls se komende VRK-bepalings:

20 April teen Munster (Loftus Versfeld)

27 April teen die Ospreys (Loftus Versfeld)

11 Mei teen die Glasgow Warriors (Loftus Versfeld)

18 Mei teen Benetton (Loftus Versfeld)

1 Junie teen die Sharks (Kingspark)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.