Lekker en sommer veel beter, Bokke!

Jesse Kriel duik oor vir Suid-Afrika se eerste en seker beste spandrie. (Foto: GB Jordaan)

Dit was heerlik, pragtig – en ʼn mens kon nie meer verwag het van ʼn span wat met vier nuwelinge die eerste keer saamgespeel het nie.

Die Springbokke, wat die eerste toets Saterdag op Loftus met 37-14 teen Frankryk gewen het, is egter nog ʼn hele ent van foutloos af – en dít is wat dit nog lekkerder maak, hierdie uitsien na die verbetering van die span vorentoe.

Oorwinning bring selfvertroue, en met dít as basis moet gewerk word om verder te skaaf totdat hierdie span ook in die Rugbykampioenskap sy man kan staan.

Daar was vier goeie drieë vir die Bokke en twee vir die Franse, en twee spanne wat uit die staanspoor die kans gebruik om te hardloop wanneer hulle kon.

Ross Cronje in sy toetsbuiging en sy Lionsspanmaat Franco Mostert in sy eerste opdraftoets op die aanval. (Foto: GB Jordaan)

Elke span het een keer voor rustyd gedruk, toe die telling 16-7 in die Bokke se guns was.

Miskien het die Springbokke nog hier en daar effens dwars oor die veld beweeg, en oordeel het hulle ook effens gekos. Maar dis dinge wat reggeskaaf sal word.

In die geheel kan jy nie die verdediging kritiseer nie, hoewel die strukture soms effens ontwrig is deur die Franse se hardloopbenadering.

Die heel lekkerste van die lekker toets was egter die  wyse waarop die Bokke se agterlyn met selfvertroue en vaart hanteer en gehardloop het. Elton Jantjies het gelyk soos hy vir die Lions op ʼn goeie dag spel, en hy kan daarvoor ʼn groot dankie sê aan sy skrumskakel Ross Cronje.

Jantjies se besluitneming was uitstekend, en die afwisseling in sy spel was ewe goed.

Was dit nie wonderlik om ʼn skrumskakel te sien wat by die afbreekpunt kom om feitlik onmiddellik skoon te maak en dit dan doen sonder om  twee skuins treetjies te gee nie?

Malcom Marx was in sy eerste opdraftoets die grootste aanvalsdoring in die Franse vlees. Hier is hy op een van sy vele stormlope. (Foto: GB Jordaan)

Die dinge wat veral opgeval het, was die doelgerigtheid waarmee die Springbokke gespeel het.

Verlede jaar se onsekerheid was nie te bespeur nie.

Malcolm Marx was besielend met die wyse waarop hy die bal gedra en gehanteer het; Eben Etzebeth en Oupa Mohoje het in die vastelos gewerk en die een duikslag na die ander veral om die afbreekpunte uitgevoer; en Siya Kolisi het verder gegaan en ook die bal goed gedra.

Nee wat, die afrigtingspan/keurders het in die geheel raakgevat.

♦  En vir diegene wat wil kritiseer en sê die Franse is hierjy: hulle het vanjaar hulle beste Sesnasiesreeks in seker vyf jaar en ewe veel ligapunte as Ierland in die tweede plek gehad; en net teen Engeland naelskraap met 16-19 en Ierland 9-19 verloor.

Verlede Junie het hulle Argentinië op tuisbodem met 27-0 afgeransel.

Die nuwe Franse afrigter Guy Noves het die Hane reeds na ʼn wenspan omgekeer – en in die komende week sal Allister Coetzee-hulle moet waak dat ʼn oorgerustheid nie by die Springbokke posvat nie.

Want dit is wat deur die jare feitlik klokslag tuis met die Bokke na goeie eerste toets-oorwinnings gebeur het.

Puntemakers –

Suid-Afrika (16) 37: Drieë: Jesse Kriel, strafdrie, Ross Cronjé, Jan Serfontein. Doelskoppe: Elton Jantjies 3. Strafdoele: Jantjies 3.
Frankryk (7) 14: Drie Henry Chavancy, Baptiste Serin. Doelskoppe: Jules Plisson 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Johan ·

Dit was nou weer lekker om die bokke weer te sien wen. Dek verdediging was 4 keer n probleem, Skosan aan die verkeerde kant van die veld. En Oupa, sorry maat, goeie tackles, maar Jaco Kriel is n beter opsie. Hierdie span gaan gel en dit vat tyd, maar ek dink daar is hoop.

MH ·

Die feit dat die Springbokke gewen het, was ‘n bonus. Wat my opgewonde gemaak het was die feit dat ek die eerste keer in jare ‘n Springbokspan gesien het wat RUGBY speel. Ek was lankal keelvol vir die eentonige, vervelige, voorspelbare, ad nauseam indons en hopie maak.

Charl ·

Dit was verseker baie beter en lekker vir ‘n slag gewees, maar ons moet net versigtig wees – een swaeltjie maak nie ‘n somer nie.

Hasie ·

Dit was mooi en lekker om te kyk. Ek was gladnie opgewonde voor die wedstryd nie, maar dit was weer Springbok rugby. Marx, Coetzee, Whitey, al julle ouens was ysters. Dankie vir die mooi vertoning met min onberekende, kort skoppies.

Frans C ·

Die groot toets is die 2de toets wanneer die Franse wat vir Toulon in die eindstyd gespeel het,beskikbaar is.
Beide spanne het kanse verbrou maar die wyse waarop die Franse die bokverdediging soos ‘n konsertina oop en toe ‘gevou’ het, wys dat die Bokke se losvoorspelers nie as ‘n eenheid saam werk op dekverdediging nie.

‘n Mens is in ieder geval bly dat die Bokke die een agter die blad het,want ‘goed begonne is halfpad gewonne.’

Waghond ·

Welverdiende oorwinning! Die Bokke kan sonder die “hasbeens” klaarkom.

Daan ·

Die bokke het so n manier om soms oortuigend te wen om dan die volgende keer uit die bus te val. Sal maar moet sien wat gaan volgende toets gebeur.

Louis ·

Teleurstellend dat die skrywer nie die goeie kapteinskap van Warren Whitely uitgewys het nie .
Jou leier is seker die belangrikste skakel in meeste spansporte.

LK ·

Well done Bokke
Maar voor ons aan die jubel gaan, kom ons wag tot na volgende Saterdag wanneer die Bokke teen volsterkte Franse speel.

Riaan ·

Nou wen die bokke weer die world cup na die wen en Allister seker weer n briljante afrigter.
Wag dat hulle die All Blacks speel dan kyk ons weer.

pbotha ·

weer lekker gewees om springbok rugby te kyk. kaptein is n awesome inspirasie vir sy spanlede. elke ou het sy kant gebring…wat selfs n middelmatige springbokspan goed maak. met n paar veranderinge oor tyd kan hierdie span n grote word. jul het my trots gemaak. op die ou einde was selfs die jersey vir my al mooier!!! gaan vat nou die reeks manne..jul verdien ons ondersteuning

pbotha ·

Ou Riaan…ek verstaan hoe jy voel. Wat egter belangrik is vir n sukkelende span soos die bokke is om ten minste die spanne te klop wat bokant jou op die log is. Hierdie is n goeue begin. Vergeet vir Coeties…brendan en franco en whiteley is moontlik die verskil. Niks verkeerd met n goeie SPAN afrigters nie Vra vir Jake watter rol het Eddie Jones gespeel in sy worldcup glorie. Go manne

Said ·

Op die einde van die dag was die bokke die beste en het sommer lekker rugby gespeel. Coetzee op heelagter was puik op die aanval, weet net nie of hy gelukkig om so naby die agterlyn te speel was of slim om te weet die Hane gee nie tikskoppies ? Skrum so bietjie gesukkel, neem aan dit is n jongspan en Beadt is bietjie oud in die bene. Het my oê my bedrieg of het Mohoje op agtsteman gesak in die eerste skrums? EN kan ons nou maar erken dat Serfontein nie op daaivlak n sterrietjie is nie, Hoe het kabous daai tyd by die Haaie gesê, ag tot my ouma kon daai drie gedruk het….
Hoop die spannetjie gaan net nog beter speel soos hul groei. Geluk manne.

Fires ·

Riaan ek dink die Britse Leeus het gewys hoe jy die All Blacks wen, sit hulle op die agtervoet en die wiele kom af

Anton KLD ·

Wim, jy het ook die Groot spel van Mostert nie eens genoem nie. Op verdediging en voordeellyn aanval was hy hy verseker beter as Eben en ook die 2 flanke. My bekommernis is dat die bank nie die verskil gemaak het as wat ‘n mens wil sien nie. Senter kombinasie was bestendig, soms te skuins gehardloop, maar was nie wow nie. In die geheel was dit lekker om na ‘n goeie wedstryd te kon kyk. Saterdag in Durban sal beslis moeiliker wees maarWhiteley en sy span kan dit doen!

Nico K ·

Ons het ‘n baie goeie span maar dit beteken nie daar kan hier en daar verbeter nie. Jesse Kriel is ‘n goeie aanvaller, maar sy verdediging is nie goed nie. En Serfontein het nie soveel spoed nie, maar op binnesenter is sy krag dalk ‘n voordeel. En die Beast is oud. (Maar ek kan nie sien dat ons die All Blacks gaan klop nie. Ek kan nie sien dat enige land die All Blacks gaan wen nie.)

Koos1 ·

Wys jou net wat gedoen kan word as jy spelers (en afrigters) op vorm kies en nie op name nie.
Dit was lekker om die Bokke te sien besluite op die veld neem en hulle spel patroon aanpas soos die spel dit vereis.
Ja, die All Blacks is ‘n span op sy eie, maar met ‘n goeie wen is die gees ook weer gelig in die span.
Dankie Bokke dat julle my vertroue weer saam met julle wen gelig het. Hou so aan asseblief!

Josua Keys ·

Coetzee moet ernstig kyk na die voorry, beast en Malerbe is nie op standard nie, ons soek stutte wat kan skrum en die bal kan dra soos losvoorspelers, ons gaan dit beslis nodig kry in die 2de toets en teen die All Blacks en Ausies, beast het een of twee goeie breuke gemaak en verder net saam gedraf dieselfde met Frans Malerbe hy het net rond gejommel. Jessie Kriel en Maphoe op senters is die antwoord, Ruan Combrink terug op regter vleuel, Jaco Kriel weer op vlank saam Koelisi/Mahoje en Warren terug op agtsteman en ons het n bok span wat die vier nasies kan wen. Ek het ook opgelet dat daar baie min gekommunikeer word in die agterlyn tussen spelers na elke losskrum ens, by die Lions sal jy altyd sien dat die spelers rond kyk en mekaar aanmoedig om vinniger in posisie te kom, daar was n paar gevalle waar die Franse die verkeerde kant toe gebreek het waar daar aan die anderkant baie gate en min verdedigers aan die Bokke se kant was wat die Franse kon gebruik het en dit is hier waar die All Blacks baie goed is so hou dit ook in gedagte. Verder was dit ‘n goeie en lekker eerste wedsrtyd vir die nuwe span om na te kyk maar met ‘n paar veranderinge kan dit net beter gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.