Lekker, lekker, lekker! En Bokke gee hulself ’n kans

Bokke op die aanval op Nuweland - Foto Inus Grobler

Bokke op die aanval op Nuweland – Foto Inus Grobler

Die Springbokke sal vroeg Sondagoggend saam met die res van Suid-Afrika uit volle bors vir Argentinië ondersteun wanneer hulle die All Blacks aanvat, aangesien ’n oorwinning vir die Poemas aan die Bokke ’n kans sal bied om nog vanjaar die Rugby Kampioenskapsreeks te wen.

Dít is moontlik gemaak deur die Bokke se puik oorwinning van 28-10 oor Australië, waarin Jean de Villiers en sy manne op wonderbaarlike wyse terug kon kom in die wedstryd en daarin geslaag het om vier drieë te druk.

Die Springbokke het op volspoed weggespring en dit was van die eerste beweging af duidelik dat hulle die tempo van die wedstryd hoog wou hou en van plan was om drieë te druk. Die Bokke het deur verskeie fases momentum opgebou, maar net toe dit lyk of hulle op pad is doellyn toe, kon die Aussies daarin slaag om hul momentum te stuit en die bal by die afbreekpunt af te neem.

Die volgende geleentheid wat die Bokke gekry het was van die ou gunsteling posisie – ’n lynstaan naby die doellyn. Die Aussies kon eenvoudig nie die dryfbeweging stuit nie en Marcell Coetzee was die man wat afgerond het.

Die Wallabies het egter hul geestelike taaiheid gewys en byna onmiddelik teruggekom in die wedstryd deur eenvoudig meer akkuraat as die Bokke by die afbreekpunte te wees, terwyl die Bokke se hantering – en in sommige gevalle ook hul verdediging – hulle van baie momentum beroof het.

’n Glips deur Habana en Pollard op die verdediging toe hulle wat in mekaar vasgehardloop het, het juis tot die Aussies se drie gelei. Dít het hul selfvertroue nog hoër laat styg en behalwe vir die laaste paar minute van die eerste helfte het Michael Hooper en sy manne die res van daardie helfte oorheers en teen rustyd met 10-5 voorgeloop.

Teen rustyd was dit duidelik dat Suid-Afrika se kanse op ’n baie groot oorwinning daarmee heen is. Trouens, met die verloop van die eerste helfte in gedagte sou ’n bonuspunt-oorwinning (met vier drieë) selfs ’n reuse taak wees.

In die eerste kwartier van die tweede helfte het die Aussies die Bokke verder frustreer deur die afbreekpunte met gemak te oorheers. Dit het hulle gehelp om op een stadium deur tot 20 fases te werk. Gelukkig het die Bokke se verdediging gehou, maar dít het weer hul energie getap en hulle het selfs in die vaste skrums in trurat begin speel. 

Met 20 minute oor het Heyneke Meyer ’n paar troefkaarte gespeel deur ’n handvol plaasvervangers op te stuur. Van hierdie manne het veral Schalk Burger onmiddelik ’n verskil gemaak. Die Springbokke kon weer die inisiatief oorneem en in ’n stadium het hulle self deur heelwat meer as 20 fases gewerk. Hulle kon egter net ’n skepdoel deur Pat Lambie daarvoor wys.

Toe volg tien minute van suiwer durf en karakter deur die Springbokke op pad na die eindfluitjie. Eers het Jan Serfontein met ’n puik breekslag die Aussies se verdediging oopgekloof. Hy het Cornal Hendricks weggestuur, wat ver gevorder het totdat hy teruggespeel het na die voorspelers. Uiteindelik het die bal in Jean de Villiers se hande beland en hy is in die hoek oor.

Drie minute voor die eindfluitjie was dit Lambie se beurt om ’n aanvallende beweging af te rond en die wedstryd was gewen, maar dit wou lyk of die Bokke tevrede sou moes wees met net vier ligapunte.

Toe die plaasvervanger skrumskakel, Cobus Reinach, egter van die afskop af om ’n losskrum breek en sy ore plattrek langs die kantlyn af, het die klein wonderwerkie skielik realisties gelyk. Toe Reinach gelak word het die Bokke die bal langs die lyn af gestuur en dit was uiteindelik die veteraan Victor Matfield wat die laaste aangee aan sy kaptein, De Villiers, kon gee om die bonuspunt-drie te druk.

Punte:

Springbokke: 28. Drieë: Marcell Coetzee, Jean De Villiers (2), Pat Lambie. Doelskoppe: Pat Lambie (1) Strafdoele: Handré Pollard (1). Skepdoel: Pat Lambie (1) 

Australië: 10. Drieë: Adam Ashley-Cooper. Doelskoppe: Bernard Foley (1). Strafdoele: Bernard Foley (1).  

Spanne:

Springbokke: 15.Willie le Roux, 14. Cornal Hendricks, 13. Jan Serfontein, 12. Jean de Villiers (kaptein), 11. Bryan Habana, 10. Handre Pollard, 9. Francois Hougaard, 8. Duane Vermeulen, 7. Teboho ‘Oupa” Mohoje, 6. Marcell Coetzee, 5. Victor Matfield, 4. Eben Etzebeth, 3. Jannie du Plessis, 2. Adriaan Strauss, 1. Tendai Mtawarira.

Bank: 16. Bismarck du Plessis, 17. Trevor Nyakane, 18. Marcel van der Merwe, 19. Bakkies Botha, 20. Schalk Burger, 21. Cobus Reinach, 22. Pat Lambie, 23. JP Pietersen.

Australië: 15. Israel Folau; 14. Adam Ashley-Cooper, 13. Tevita Kuridrani, 12. Matt Toomua, 11. Joe Tomane; 10. Bernard Foley, 9. Nick Phipps, 8. Ben McCalman, 7. Michael Hooper (kaptein), 6. Scott Fardy, 5. Rob Simmons, 4. Sam Carter; 3. Sekope Kepu, 2. Saia Fainga’a, 1. James Slipper.

Bank: 16. James Hanson, 17. Benn Robinson, 18. Ben Alexander, 19. James Horwill, 20. Scott Higginbotham, 21. Nic White, 22. Kurtley Beale, 23. Rob Horne.

Beamptes:

Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis)

Assistent skeidsregters: Wayne Barnes (Engeland), Mathieu Raynal (Frankryk)

TV skeidsregter: Graham Hughes (Engeland)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johannes ·

Ek wil graag vriendelik dog dringend vir die SA pers vra om nie namens SA te praat nie want daair was al in 2007 ongeveer 57000 (Amper ‘n hele stadion) in SA wat die All Blacks ondersteun en sedert 2007 het daardie getal seker verdubbel want op GOOGLE was daardie getal net in die KAAP want hulle was ALL Black ondersteuner klubs wat geregistreer was sederdien is die ondersteuner klubs landswyd wat beteken daardie 57000 getal is al oor die 100000 dan is daar Wallabies Argentynse Engelse Franse ook wat nog nie bereken is nie.
Dankie vir die geleentheid om dit te noem en dan ook by te voeg deur te se ek was in 2007 een van die All Black ondertsteuners wat al in 2007 nie by die 57000 in getel was nie en ek is sedert 1996 ‘n All Black ondesteuner.
Jammer dit is ook nou ou nuus die All Blacks het gewen en SA bokkies kan nie meer die beker wen nie.

Baas ·

Gelukkig hoef die Springbokke nie staat te maak op immigrante en sg. ondersteundersklubs wat bestaan uit mense wat nog nooit eers die land wat die span vandaan kom besoek het nie en eintlik maar net ‘n politieke stelling wil maak wat nou al vir 20 jaar nie meer van toepassing is nie.

Reinhardt Grobbelaar ·

Baas,

Graag wil ek net vir jou vra. Jy wat nou so trots Suid Afrikaans is. Wat maak jou so trots op Suid Afrika. Jy wat hier bly en wat in die land is….?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.