Lekker rugby – en Griekwas bly in die Premierliga

AJ Coertzen – uitblinker in sy 50ste wedstryd (Foto: Griekwas Rugby)

Tensy daar soos maar elke jaar weer ʼn paar eie ekke is wat hulle eie bonde se belange voorop stel om die stelsel te probeer verander, sal daar nie aanstaande jaar weer ʼn uitspeelreeks wees om die Curriebekerspanne te bepaal nie.

Griekwas was Vrydagaand te sterk vir die Griffons, en het ʼn lekker wedstryd vol beweging en met stukkies uitstekende rugby met 59-26 insluitende nege drieë teen vier gewen. Hulle behou dus hulle plek in die Curriebeker se Premierliga.

Griekwas, hoewel hulle sowat ʼn kwartier vir hulle eerste punte moes werk,  was deurgaans die beste span en meestal in beheer, met die uitsondering van twee skielike skrik-drieë van die Griffons se kwiksilwer heelagter Selvyn Davids in die laaste kwart wat sy span tot binne 14 punte van Griekwas se telling laat naderkruip het.

Griekwas, wat onkant betrap is omdat hulle, soos die Griffons, nie van die uitspeelwedstryd bewus was nie, moes skielik hergroepeer nadat hulle spelers na die Curriebekerreeks afgegee is en van hulle vir die uitspeelwedstryd van verlof af na die oefenveld toe moes terugkeer.

Ja, daar was foute; en ja, daar was swak oomblikke van individue en van albei spanne, maar die lekker hardlooprugby, en die vaardighede wat heelwat kontinuïteit en soms pragtige tussenspel tot gevolg gehad het, het dit ʼn heerlike wedstryd gemaak om na te kyk.

Wat nietemin duidelik was, is dat daar ʼn groot verskil tussen die Curiebeker se Premierliga en Eerste Liga is.

Vir Griekwas het George Whitehead sy honderdtal in vanjaar se Curriebekerreeks aangeteken en sal hy op 110 punte hoogs onwaarskynlik in Saterdag se eindstryd deur Curwin Bosch (82 punte) ingehaal word. Maar Vrydagaand se punte tel darem ook nie as Premierligapunte nie.

Whitehead was ook die man wat, soos dit ʼn losskakel betaam, die leiding agterlangs gegee het – en nie net met taktiese spel en skoprugby nie, maar ook met sy breekslae, aansluiting en goeie oordeel.

Griekwas se kaptein AJ Coertzen was in sy 50ste wedstryd vir die bond soos altyd weer op die aanval ʼn ware yster met sy aansluiting en vermoë om die bal die werk te laat doen, en Ederies Arendse het met die aanvoorwerk van Coertzen en Whitehead in die besonder drie keer gaan druk.

Vir die Griffons het die heelagter Davids self drie keer gaan druk met sy vaart en goeie aanvoeling – en in een geval eina-verdediging van Griekwas se kant af.

Puntemakers –

Griekwas (26) 59: Drieë: Tertius Kruger, Ederies Arendse 3, AJ Coertzen, De-Wet Kruger, Wendal Wehr, Tiaan Dorfling, Shaun McDonald. Doelskoppe: George Whitehead 7
Griffons (14) 26: Drieë: Selvyn Davids 3, strafdrie. Doelskoppe: Jaun Kotzé, Duan Pretorius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.