Lekker tweestryde wag op Ellispark

Elton Jantjies. Foto: GB Jordaan.

’n Gauteng-derby sorg altyd vir lekker vermaak. En Saterdagaand kan ondersteuners moontlik net ’n tikkie meer oemf verwag wanneer die Lions teen die Bulls op Ellispark speel.

Want benewens die ooglopende stryd tussen die twee spanne op die veld wag daar ook ’n paar individuele konfrontasies op rugbyliefhebbers.

Burger Odendaal sal die no. 12-trui vir die Johannesburgers dra en hy sal sy stempel dubbel en dwars op die wedstryd wil afdruk: Hy was immers verlede jaar nog die Bulls se kaptein.

Hy vorm saam met die opwindende Wandisile Simelane ’n gedugte senterpaar, maar die kombinasie van Stedman Gans en Cornal Hendricks is een van die redes vir die Bulls se sukses in die reeks.

Gans is die voorste driedrukker in die reeks, terwyl dit duidelik is dat Hendricks sy rugby geniet sedert Jake White hom van vleuel na senter geskuif het.

Stedman Gans. Foto: GB Jordaan.

Dan is daar die stryd van die skoppers: Elton Jantjies blyk die gunsteling te wees om die Bokke se no. 10-trui in Handré Pollard se afwesigheid te dra, maar Morné Steyn is besig om vriend en vyand ewe veel te beïndruk.

Die 36-jarige losskakel draai die horlosie met mag en mening terug. Vergeet maar van die betroubare losskakel wat met reëlmaat die bal tussen sy teenstanders se pale deur jaag; deesdae speel hy met die avontuurlus van ’n hoërskoolspeler.

Die lynstaangevegte tussen die Lions se Marvin Orie en Ruben Schoeman en die Bulls se Walt Steenkamp en Jason Jenkins sal ook vir interessante kykstof sorg.

Die wedstryd skop Saterdagaand om 19:00 af.

Lions: Gianni Lombard (heelagter), Stean Pienaar (regtervleuel), Wandisile Simelane (buitesenter), Burger Odendaal (binnesenter), Courtnall Skosan (linkervleuel), Elton Jantjies (losskakel), Morné van der Berg (skrumskakel), Len Massyn (agtsteman), Vincent Tshituka (flank), MJ Pelser (flank), Marvin Orie (slot), Ruben Schoeman (slot), Carlu Sadie (stut), Jaco Visagie (haker), Sti Sithole (stut). Plaasvervangers: PJ Botha, Nathan McBeth, Ruan Dreyer, Reinhard Nothnagel, Marnus Schoeman, Ross Cronjé, Dan Kriel en Tiaan Swanepoel.

Duane Vermeulen sal weer eens die Bulls aanvoer. Foto: GB Jordaan.

Bulls: David Kriel (heelagter), Travis Ismaiel (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Kurt-Lee Arendse (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Ivan van Zyl (skrumskakel), Duane Vermeulen (kaptein en agtsteman), Elrigh Louw (flank), Marco van Staden (flank), Walt Steenkamp (slot), Jason Jenkins (slot), Trevor Nyakane (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Jacques van Rooyen (stut). Plaasvervangers: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Marcel van der Merwe, Sintu Manjezi, Nizaam Carr, Embrose Papier, Chris Smith en Marco Jansen van Vuren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.