Lekkerkry-wedstryd op Loftus ná 84 minute besleg

Makazole Mapimpi – wendrie na 84 minute (Foto GB Jordaan)

Dit was ʼn Curriebekerwedstryd wat alles gehad het: spanning, 11 goeie drieë, hardloopwerk en langafstand-teenaanvalle deur albei spanne, inklim om besit en die wenpunte meer as vier minute ná die eindfluitjie.

En les bes, ʼn doelskop van Tony Jantjies wat afgestorm is en miskien die uitslag bepaal het!

Vrystaat het Saterdagmiddag op Loftus bloed gesweet om met 41-40 te wen met Makazole Mapimpi wat ná meer as 84 minute se speeltyd oor is vir die wendrie.

Vrystaat se vyf punte uit die wedstryd plaas hulle nou een punt voor die Sharks op die punteleer.

Soms middelmatige verdediging en oordeel wat omkeerbesit te maklik weggegee het, is seker die negatiewe aspekte uit die wedstryd. Dit was nietemin ʼn wedstryd wat selfs die verloortoeskouers op Loftus sou laat saamstem het: Die rugby was lekker!

Daar was deurgaans ʼn wipplankryery op die telbord, ʼn bereidwilligheid van albei spanne om met die bal te hardloop, ʼn paar puik drieë en heelwat negatiewe spel om drieë te verhoed.

Die Bulle was in hierdie opsig die groot sondaars, en twee geelkaarte in die eerste helfte het hulle ritme versteur.

Die rustydtelling was nietemin 21-17 in hulle guns, maar twee vinnige drieë kort na die hervatting het die Bulle op 17-31 agtergelaat.

Tien minute later was hulle egter na twee drieë weer 33-31 voor.

Die Bulle het voor rustyd weer in die skrums swaargekry wanneer die Vrystaat regtig druk toegepas het, en hierdie aspek sal moet aandag kry as die Ligbloues in die reeks wil vorder.

Ná rustyd was die Blou Bulle egter die beste daaraan toe in die skrums.

Uitblinkers was daar in die hardloopwedstryd heelwat wanneer dit by aanval kom. Warrick Gelant het met goeie tydsberekening twee drieë gemaak; Makazole Mapimpi het een pragdrie gaan druk nadat hy eenvoudig met vaart deur die Bulle gehardloop het.

Maar hy moet darem ook dankie sê vir die skandelike keerwerk van die tuisspan wat net hier en daar ʼn handjie voor hierdie drie uitgesteek het.

Mapimpi het nog twee keer afgerond en is op pad boontoe in Suid-Afrikaanse rugby. ʼn Tikkie skaafwerk saam met sy grootte en vaart gaan van hom ʼn baie moeilike kalant maak.

Burger Odendaal was deurgaans gevaarlik, Francois Venter moes voor Damien de Allende op die Bokke se bank gesit het, en albei spanne sal moet werk aan beter opsies om by hulle hardloop-bereidwilligheid te voeg.

Rosko Specman het in die tydjie wat hy op die veld was die Blouspan laat bontstaan maar een of wee oordeelsfoute het sy goeie werk ongedaan gemaak. Ox Nché het weer hard gewerk, in die vastelos uitgeblink en goed geskrum.

Ag, jy kan aanhou uitblinkers noem. Feit is, dit was lekker rugby, en ondanks die oordeel- en verdedigingsfoute die soort spel wat mense weer wedstryde toe sal lok.

Puntemakers –

Blou Bulls (21) 40: Drieë: Dries Swanepoel, Tony Jantjies, Jamba Ulengo 2, Warrick Gelant. Doelskoppe: Jantjies 2, Joshua Stander. Strafdoel: Jantjies 3

Vrystaat Cheetahs (17) 41: Drieë: Makazole Mapimpi 3, Jasper Wiese, Francois Venter, Sergeal Petersen. Doelskoppe: Ryno Eksteen 4. Strafdoel: Eksteen.

Makazole Mapimpi op pad doellyn toe vir die eerste van sy drie drieë. (Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wouter ·

Wonder net wat gaan die flou bul ondersteuners se verskoning wees?

Will i am ·

Die ref se skuld. Hoe kan hy die game so lank na die hooter nog aangaan. Ha ha ha

Veritas ·

Ai my span kan regtig aanjaag as hulle lushet. Waar is die legendariese bul voorspelers? Moderne hardloop rugby of te nie, wanneer jou ysters voorlangs domineer, wen jy wedstryde.

Benna ·

Daardie afklap van die bal in die laaste paar minute van die game het die Bulle duur gekos…daai speler moet terug gaan en gaan klub rugby speel…dis waar amareurs hoort!!!

Johan Maritz ·

Ek kyk nie meer rugby nie, maar as ek reg verstaan is n geelkaart gegee vir afklap van bal. Dit is belaglik ek vermoed rugby bestaan basies nou net uit geelkaarte. Wie gaan dan wil rugby kyk gee eerder n strafdrie, met vandag se spelpatrone vermoed ek geen span kan meer sonder 15 man speel nie.

Callie ·

Het dit al genoem. Daar was nie n meer suksesvolle span, meer trotse span met meer karakter in die land nie. Soos wat bestuur al swakker geraak het en kwotas al erger ingeforseer was het die agteruitgang gekom. Daar is nie eers meer toeskouers oor nie. Vir die wat nog aan provinsialsme ly, word wakker, rugby sterf n stadige dood in die land. Die ander provinsies doen nie veel beter nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.