Les vir Suid-Afrikaanse rugby te leer

ierland-logo-tripDaar trek `n vars briesie deur Ierse rugby wat die span op die lange duur baie in die sak kan bring.

Munster het onlangs huis skoongemaak toe hy Rassie Erasmus as direkteur van rugby aangestel het. Ek het jare lank met Erasmus te doene gehad, eers as jong speler en toe as afrigter. Hy is ‘n denker van die spel, bring ure voor die rekenaar en oefenveld deur en dit het my altyd laat wonder hoekom die Stormers se spel nie werklik onder hom vooruitgegaan het nie.

Ja, hy het `n Curriebeker of twee (ook by die Cheetahs) gewen en `n uitspeelwedstryd of twee in die Superreeks afgedwing, maar waar is die bekers?

Nou is hy in `n nuwe omgewing, hy sal met spelers werk wat nie dieselfde vaardighede het as van die Suid-Afrikaanse spelers nie en die nat en swaar velde in die middel van die seisoen sal hom nagmerries gee. Dit sal sy uitdaging wees, een waarvan afrigters hou.

Connacht, die kleinste van die Ierse provinsies, het  reeds die Rubicion oorgesteek toe hy die Samoaan Pat Lam aangestel het. Onder Lam het Connacht heeltemal teen die verwagting in die Pro12-reeks gewen toe hy Leinster in die eindstryd met hardlooprugby oorrompel het. Lam, net soos John Mitchell, Johan Ackermann, Harry Viljoen en `n rits ander, glo dat die bal die werk moet doen.

Nou het Leinster ook die regte stap geneem.

Leinster, een van die goue provinsies van Ierland, se afrigterskorps bestaan uit Leo Cullen, Girvan Demspey, John Fogarty en Kurt McQuilkin, die enigste afrigter wat ouer as 50 jaar is. Die meeste van hulle het onlangs nog gespeel, maar is uit voeling met die spel.

Cullen het vir Graham Henry, die oud-afrigter van die All Blacks wat hulle tot  88 oorwinnings in 103 toetse vir `n wenpersentasie van 85.4 gelei het, as konsultant aangestel.

Henry het `n paar jaar gelede ook as konsultant in Argentinië opgetree en hulle reggeruk, van `n span wat op konserwatiewe stampkar- en skoprugby gedy het, tot ene wat die Bokke en Wallabies geklop het.

Nou is die vraag, as Ierland dit kan doen, hoekom nie al die spanne in Suid-Afrika nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieta ·

Dis eenvoudig. Ons het nie die afrigters nie en wanneer ons het word hulle nie aangestel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.