Lesse uit die verlede: Springbokke teen die Wallabies

images[6]Daar is beslis ‘n paar lesse wat geleer is die afgelope naweek na die Springbokke se sege oor die Wallabies op Nuweland.

Skrums:

Dit bly ‘n enigma vir die meeste skeidsregters, assistente en hul helpers. Saterdag het die Wallabies, wat nie die pyp teen die Bokke se skrum kon rook nie, gesorg dat hulle die reël so manipuleer dat hulle reeds skrum op die inslaan en nie wanneer die bal deur die skrumskakel ingegooi word nie. Die Franse skeidsregter en sy twee assistente, insluitende die TV-skeidsregter het hierdie oortredings die heeltyd gemis. Daar mag wel opmerkings gemaak word oor die oor-polisiering van hierdie reël, maar sonder straf,verkry hulle onregverdig die voorvoetvoordeel op hulle eie en hul opponente se ingooi.

Dit gaan baklei wees tot teen die einde:

Die All Blacks is vyf ligapunte voor en as die Bokke die trofee wil wen, moet hulle vier drieë druk, die All Blacks met meer as sewe punte klop en hulle keer om self meer as drie drieë te druk. Gebeur dit, wen die Bokke die beker omdat hulle meer wedstrydpunte in die kompetisie behaal het.

 

Een drie in 60 minute se speeltyd teen ‘n gemiddelde Wallabyspan is nie goed genoeg nie. Die All Blacks kon teen Argentinië verseker dat hulle met ‘n bonuspunt wegloop na ‘n drie in die laaste halfminuut van die wedstryd. Die Bokke sal dus die stang moet vasbyt en keer dat die All Blacks nie dieselfde kan doen op Ellispark nie. Die All Blacks kom Ellispark toe met groot selfvertroue en ons sal gedurende die week gereeld hoor hoe die Bokke hulle in 2004 onder John Smit se kapteinskap met 40-26 afgeransel het. Daardie dag het die Bokke vyf keer gaan druk en die All Blacks slegs twee keer.

Dissipline, dissipline, dissipline…

Die Bokke moes Saterdag twee geelkaarte afsluk nadat Flip van der Merwe afgestuur is vir ‘n elmboogloop en Duane Vermeulen gestraf is vir ‘n moedswillige afklap van die bal. Bismarck was in Auckland aan die ontvangkant, reg of verkeerd. Die feit is die skeidsregter gaan nie sy beslissing op die veld verander nie, en as die geelkaart uitkom is ons een man minder. Ons kan dit nie toelaat op Ellispark nie en Heyneke Meyer sal die spelers ernstig moet aanspreek oor hierdie aspek van die Bokke se spel. Handsakgevegte en ruk-en-plukke is aan die orde van die dag en sal altyd deel van oorheersingstryde op die veld wees, maar skeidsregters (veral die Noordelike Halfrond s’n) gaan minder geduldig met ons manne wees.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.