Lesse vir oulaas aan Allister-hulle

Jacques van Rooyen en Marvin Orie in aksie teen die Sharks. (Foto: GB Jordaan)

Dis nie ʼn moeilike vraag om te beantwoord nie, want almal weet dat die gewese Springbok-afrigter, Allister Coetzee, asook sy afrigtingspan, die Springbokspan opgefoeter het.

Dit was Saterdag op Ellispark weer baie duidelik toe die Lions die Sharks met 26-19 in die Superrugbyreeks geklop het.

Waar die Springbokke se wedstrydplan die afgelope twee jaar aanvanklik om die Lions en  hul Bokke gewentel het, is hulle al hoe meer uitgedun met katastrofiese gevolge.

Wat het verander en hoekom is die spelers ewe skielik weer by die Lions op hul koppe?  Hoekom was daar soveel passie, goeie vertonings en goeie spel?

Was dit uitsluitlik afrigting, selfvertroue en ʼn patroon waarmee hulle vertroud is?

Kom ons begin heel voor, nie met die bruisende nuwe talent nie, maar met die ou hande, op heelagter.

Andries Coetzee: Onder Allister Coetzee-hulle het Andries Coetzee verlede jaar in al 13 toetse gespeel, maar hy was ʼn eendimensionele robot en voorspelbaar. Hy het elke keer te ver met die bal gehardloop en is al te gereeld met bal en al betrap. Saterdag was daar reeds tekens dat hy sy ou vaardighede en selfvertroue teruggekry het. Hy het volgens statistieke tien keer gehardloop, vier keer geskop en 91 meter met die bal gevorder. Ook het Curwin Bosch, wat aan die einde van die jaar die Bokke se duiksakke vasgehou het, gewys dat hy ʼn baie groot impak kan maak.

Lionel Mapoe: Ja, hy was verlede jaar beseer en is deur die kombinasie van Jan Serfontein en Jesse Kriel vervang, maar hy is een van die beste spelers om af te rond en sy twee drieë teen die Sharks getuig hiervan.

Die Sharks se Lukhanyo Am  het aan die einde van die jaar net vier minute op toer gespeel, in die laaste toets teen Wallis. Wat hy het daar gemaak?

Elton Jantjies:  Sy selfvertroue is die afgelope twee jaar deur Coetzee in ʼn tas gedruk en met vakansie gestuur. Saterdag was daar tekens dat hy weer die argitek van die Lions se agterlyn sal wees. Hy het 31 meter gevorder, 18 keer die bal uitgegee, goed geskop en agt keer suksesvol verdedig.

Ross Cronje: Hoekom het hy onder Coetzee eers ʼn tree of wat met die bal gehardloop en dit dan uitgegee?

Ruan Dreyer: Ná vier toetse in 2017 (teen die Franse, die All  Blacks in Albany en op Nuweland en in Australië) is hy gepos omdat hy kwansuis te veel strafskoppe afgestaan en in die skrums gesukkel het. Saterdag het hy, Malcolm Marx en Jacques van Rooyen (hy het Thomas du Toit se aspirasies vernietig om die Bokke se volgende vaskop te wees) die Sharks in die skrums opgefrommel.

Warren Whiteley:  Nog nie op sy beste nie, maar as daar ʼn beter kaptein is, bring hom.

En só kan ons aangaan … en hopelik herhaal Rassie Erasmus-hulle nie weer dieselfde foute nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lol ·

Vanaf my neutrale mening dink ek Pieter Kruger het ‘n ander wedstryd gekyk as ek. As die Lions so gedomineer het hoekom is die tellingverskil so klein? En jy noem nie Dreyer se kritiese fout nadat Beast op veld verskyn het nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.