Lessie vir SA afrigters te leer

Wayne Pivac (Foto Twitter)

Wanneer jy goud raakgeboor het, hoekom twee jaar wag voordat jy dit myn?

Die Walliese Rugbyunie (WRU) het Maandag uit die bloute aangekondig dat Wayne Pivac aan die einde van aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi die leisels by Warren Gatland as hoofafrigter oorneem.

Ja, die aankondiging van die Scarlets-afrigter was uit die bloute, maar nie sy aanstelling nie, want daar is maandelank agter die skerms gewerk op soek na ʼn geskikte kandidaat.

Die 55-jarige Nieu-Seelander se drade is fyn verweef met dié van die All Blacks-afrigter, Steve Hansen.

Ook ʼn oudpolisieman (dink net aan suksesvolle Suid-Afrikaanse afrigters soos Lucas Strachan, Buurman van Zyl, Peet Kleynhans, Johan Kluyts en Johan Ackermann) wat sy pot goud in Wallis gaan soek het.

Pivac het, nes ander suksesvolle Kiwi-afrigters soos Hansen, Graham Henry, Joe Schmidt en Vern Cotter, ook nie vir die All Blacks gespeel nie, maar dit daar gelaat.

Wat wel belangrik is, is hoe hy afrig, spelers se vaardighede ontwikkel, hoe hy hulle leer om op hul voete te dink, om onder druk die regte besluite te neem, om drieë te druk sonder om enigsins die basiese beginsels links te laat lê.

Hy het reeds wondere by die Scarlets verrig, want hulle het Munster (wat toe deur Rassie Erasmus afgerig is) in die Pro-12-reeks se 2016/’17-eindstryd met 46-22 geklop deur hulle van hul voete af te hardloop.

In die 2017/’18-reeks het hulle die Cheetahs met 43-8 in die kwarteindronde uitgeskakel, die Glasgow Warriors in die halfeindronde met 28-13 geklop, maar in die eindstryd met 40-32 deur Leinster getroef.

In ʼn onderhoud verlede jaar, het Pivac hom só uitgedruk: “Jy kry vir jou die grootste pak voorspelers. Die beste nommer 9 en 10, jy speel ʼn gebiedsvoordeelwedstryd en jou hou aan om druk toe te pas. As dίt die geval is, sal ek eerder asblikke skoonmaak as om af te rig.”

Is daar nie ʼn lessie vir van ons Suid-Afrikaanse afrigters te leer nie?

Hoekom kry ons dit reg om die jong All Blacks by die Junior Wêreldkampioenskap ore aan te sit (22-16 in 2012, 41-34 in 2013 en 40-30 vanjaar), maar kan dit nie na die senior vlak oordra nie?

Hoekom ontwikkel die jong Nieu-Seelanders en stagneer die Jong Bokkies?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wesley ·

Briljant gese Pivac. Het nie altyd die beste spelers in elke posisie nie, en ook nie die grootste en sterkste en watookal wat voorgelees word nie. Maar jy troef jou opponent deur slim speel. Deur slim afrigting. Ons rugby “kenners” in SA het dom geword. Of was ons nog altyd so?

Wouter ·

Wat het Peet Kleynhans bereik. Behalwe om die Cheetahs tot in die afgrond in af te rig. Toe Rassie posvat het hulle die Currie Beker gewen. Toe vat Naka oor en weer dieselfde. Toe vat Franco oor en wen weer. Kol Peet moes maar in die army gebly het.

ACJ ·

Julle hou daarvan om die afrigters te blameer,gedurende oefensessies doen hulle die regte ding,maar sodra hulle teen opponente te staan kom dan vang hulle twak aan (dis nou die spelers) dan word die afrigters blameer.Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.