Lig die hoed vir Blitsbok Werner Kok

Werner Kok (Foto: Werner Kok/Facebook)

Die Blitsbok Werner Kok het Saterdagoggend in Hongkong ʼn groot mylpaal bereik toe hy sy 100ste drie vir die Blitsbokke in Wêreldrugby se sewesreeks gedruk het.

Plaas dit in perspektief, Kok se rol is nie om soos die snellers drieë in te ryg nie, maar om kanse te skep, die grondslag te lê, die teenstanders voos te duik en besit by die afbreekpunte te wen.

Dis hoekom hy jare lank al die groot staatmaker is.

Danksy Kok se drie het die Blitsbokke baie maklik tot Sondagoggend se uitspeelrondes deurgedring toe hulle Samoa met 21-7 geklop het. Impi Visser en Justin Geduld het ook drieë gedruk en Geduld was in die kol met al drie doelskoppe.

Die Blitsbokke het onoorwonne in hul drie groepwedstryde geëindig nadat hulle vroeër ook met Japan (22-7) en Skotland (26-12) afgereken het.

Die Blitsbokke het boaan Groep A geëindig en kom in die eerste kwarteindstryd teen Amerika, die huidige voorloper in die reeks, te staan. Die Eagles het deurgeskraap op punteverskil nadat hulle teen Wallis en Engeland verloor het.

Die Blitsbokke het Samoa ore aangesit, want waar die Samoane fisiek probeer oorheers het, het hulle hul teen die Blitsbokke se puik verdediging vasgeloop, waar Branco du Preez, Ryan Oosthuizen, Kok, Visser en Chris Dry uitgetroon het.

Die drie wat die Samoaan Tamsi Alosio aan die einde gedruk het, was eintlik ʼn troosdrie, want die Blitsbokke het die kragmeting toe reeds in die sakkie gehad.

*Die Blitsbokke kan die Amerikaners troef om hul droom om die eerste keer die toernooi in Hongkong te wen, te bewaarheid. Die Yanks is baie bestendig sonder om briljant te wees, want hul grootste spelskepper, Perry Baker, herstel steeds van ʼn gebreekte kakebeen. Hulle maak baie staat op die vaart van Carlin Isles en die bestendige Madison Hughes en Ben Pinkelman, maar as Geduld, Kok, Oosthuizen, Dry, Du Preez en Visser kook, kan die Blitsbokke seëvier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.