Liga-groef laat spelers ná vyf jaar stagneer

majesticslogo1-300x224Dit was die vyfde opeenvolgende jaar dat Majestics die Noordwestestreek en die Boland se Gemeenskapskild gewen het, maar gewis een van die moeilikste en uitdagendste om die spelers gemotiveerd te hou.

Johan Muller, die voorsitter van die klub op Citrusdal, het aan Pale Toe! gesê die liga bied niks meer vir die spelers om na uit te sien nie en dit werk negatief op hul benadering en toewyding in. Daar is tans geen vooruitsig dat die klub tot die reeks om die Streekuitdaagbeker bevorder kan word nie.

“Elke jaar verg van ons om met nuwe idees vorendag te kom om die spelers aan te vuur vir die seisoen wat voor lê.”

Muller sê die grondslag vir die klub se sukses is weereens vanjaar met die buite- en voorseisoense voorbereiding gelê. Die harde werk is dáár gedoen om die spelers vir die seisoen te slyp.

Hy wil nie enkele uitblinkers uitsonder nie omdat Majestics as span hard moes wek om bo uit te kom.

“Individuele spelers se vertoning het van week tot week gewissel, en daar is nie regtig iemand wat vir `n konstante hoë peil regdeur die seisoen uitgesonder kan word nie. Individuele briljantheid was aan die orde van die dag en het die spel opgekikker.”

Vier spelers is darem deur die Boland-keurders raakgesien: Tyron Fortuin (Boland Elite), Sachin Farmer (Boland o.20), Robin Adams (Boland o.20) en Patrick Sobekwa (Boland-rugbyakademie en Boland o.20).

Driejaarplan

Muller sê Koringberg was gewis die span wat Majestics die tweede jaar agtereenvolgens die hardste bene laat kou het.

“Dit is `n jammerte dat só `n span nie kon deurdring na die eindstryd nie, maar hy beloof goeie rugby vir die toekoms. Dis gewis `n span waarmee rekening gehou moet word.”

Muller sê Majestics het ná afloop van die seisoen die fokus van jaar-tot-jaarbeplanning verskuif en `n driejaarplan ontwikkel wat die komende drie jaar die rigting vir die klub aandui.

“Die plan word nou by al ons spelers, toeskouers en vennote tuisgebring om seker te maak dat die beste resultate bewerkstellig word.

“Dit dui op `n nuwe benadering tot die speel en ontwikkeling van die spel, wat Majestics graag binne die volgende drie jaar tot op die hoogste vlak in Bolandrugby wil toets; `n plan wat nuwe spelers vir die komende seisoen lok, en gewis ons staatmakers vir die klub behoue laat bly,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.