Limpopo: Noordelike op loop met Louis Trichardt

Pietersburg Noordelike het Saterdag met Louis Trichardt op loop gegaan in hul kragmeting in die Limpopo Blou Bulle se Boet Fick- Senior Liga op Louis Trichardt.

Daleen Oosthuizen, Noordelike se sekretaresse, laat weet die besoekers het die tuisspan met 73-22 oorweldig (rustyd 47-0).

Louis Trichardt se tweede span het met 29-17 gewen, nadat die spanne rustyd met 12-12 gelyk getrek het.

Vir Noordelike se eerste span het Brandon Ramatsoma (regtervleuel) vier drieë gedruk; en Juan Vos (losskakel) het 18 punte met nege doelskoppe behaal.

Thabo Tladi (slot), Brandon Lehmann (skrumskakel) en Godknows Mawara (buitesenter) het elk twee keer agter die doellyn gaan kuier. Koning Janse van Rensburg (linkervleuel) het die span se ander drie gedruk.

Jaco Ceronio (vaskopstut), Jean-Jacques de Lange (slot) en Tiaan Hooghiemstra (bankslot) het die tuisspan se drieë gedruk, en Pieter Booyse (heelagter) het twee verdoel en ʼn strafdoel bygevoeg.

Vir Noordelike se tweede span het Stefan Schoeman (agsteman) en Henco Swanevelder (regtervleuel, twee) drieë gedruk, en laasgenoemde het een verdoel.

Nardus Barnard (loskopstut), Davy Kotzé (agsteman), Dylon Joubert (losskakel), Kevin Gilbert (linkervleuel) en Johan Botes (buitesenter) het Louis Trichardt se drieë gedruk. Botes het twee daarvan verdoel.

Opgesomde punteleer –

Boet Fick- Senior Liga

Eerste spanne

Northam 37, Potgietersrus 30, Noordelike 17, Louis Trichardt 9, Letaba 6.

Tweede spanne

Northam 40, Noordelike 20, Louis Trichardt 16, Potgietersrus 15, Letaba 4.

Reserweliga (Noord)

Universiteit van Limpopo 12, Noordelike III 9, Universiteit van Venda 8.

Waterberg-reserweliga

Eerste spanne

Mogol 24, Nylstroom 22, Vaalwater 8, Kwaggas 5.

Tweede spanne

Amandelbult I 23, Northam III 20, Mogol II 14, Phagameng I 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae