Limpopo: Northam stu voort; Nyl slag Vaalwater

Die Northam Rhinos is steeds onoorwonne in die Limpopo Blou Bulle se Boet Fick- Senior Liga, en Nylstroom het in die jongste weekronde met Vaalwater gemors om seker te maak van ʼn plek in die Waterbergstreek se eindstryd.

Die Rhinos, wat sewe uit sewe wedstryde gewen het, is nou tien ligapunte voor Potgietersrus, wat vyf uit ses wedstryde gewen het.

♦ In die Waterberg-reserweliga het Nylstroom vir Vaalwater met 59-12 afgeslag (rustyd 35-7).

Martin Kleynhans, die wenspan se voorsitter, sê Nylies het van die begin af die krane oopgedraai, en dit was vroeg reeds duidelik dat dit vir Vaalwater (wat sonder heelwat staatmakers moes klaarkom) ʼn opdraande stryd sou wees.

“Veral Nylstroom se losvoorspelers het baljaar, en saam met die agterlyn die manne van Vaalwater van hul voete af gehardloop.

“ʼn Pluimpie moet gaan aan Vaalwater, wat in die tweede helfte nooit gaan lê het nie, en dit vir Nylstroom moeilik gemaak het om die wedstryd soos in die eerste helfte te beheer.

“Meyer Ferreira (flank), JJ Pieterse (stut), Juandré Niewenhuis (skrumskakel) en Werner Smit (heelagter) het vir Nysltroom uitgeblink.”

Ferreira (drie), Jaco Matthee, Pieter Pretorius, Niewenhuis (twee), Smit en Zekhele Masilana het die wenspan se drieë gedruk. Martin van Heerden (vyf) en Pieterse het met doelskoppe geslaag.

Kleynhans sê Nylstroom se laaste ligabepaling is Vrydag teen Warmbad (weg), waarna die eindstryd teen Mogol ʼn week later op Ellisras beslis word.

Opgesomde punteleer –

Boet Fick- Senior Liga

Northam 35, Potgietersrus 25, Noordelike 12, Louis Trichardt 9, Letaba 6.

Tweede Liga

Northam 35, Noordelike 20, Potgietersrus 15, Louis Trichardt 11, Letaba 4.

Reserweliga (Noord)

Universiteit van Limpopo 12, Noordelike III 9, Universiteit van Venda 8.

Waterberg-reserweliga

Eerstespanne

Mogol 24, Nylstroom 18, Vaalwater 8, Kwaggas (Warmbad) 4.

Tweedespanne

Amandelbult I 23, Northam III 20, Mogol II 14, Phagameng I 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.