Limpopo se Renosters is besig om hul koppe te laat sak vir die stormloop na die Goue Beker waarom die land se voorste oop klubs einde hierdie seisoen meeding.
Northam het verlede jaar die Limpopo Blou Bulle se klubtitel gewen toe hy Pietersburg Noordelikes ná agt jaar as kampioen onttroon het.
Flip de Kock, die sekretaris, sê dit gaan voor die wind by die klub. Die spelers het wel eers 4 Januarie begin oefen, maar hulle vertoon goed.
Northam het Saterdag `n week gelede met gemengde welslae teen die Grizzlies (Tuine) van Pretoria gespeel. Die eerste span het 27-13 geseëvier, maar die tweede en derde span het verloor.
“Dit was maar `n tipiese eerste wedstryd van die seisoen. Baie foute is begaan en die balhantering was nie op peil nie,” sê De Kock.
Vrydag het die Renosters in Pretoria teen Noordelikes daar te staan gekom en al drie spanne het die keer gewen.
Die eerste span het 28-3 koning gekraai.
“Klipharde klubrugby was aan die orde van die dag. Die agttal het sy werk gedoen en die skrums, losgemale en lynstane oorheers. Dusdoende is die platvorm gelê vir die agterspelers om te baljaar.
Gerhard Potgieter (senter) het veral uitgeblink en telkemale die verdediging geklop.
In die tweede span het Marnus Struwig en Mark Humphries uitgeblink en baie goeie rugby gespeel. Die span het 37-8 gewen.
Die voorspelers het die verdediging goed besig gehou en ook die wedstryd oorheers.
Northam se derde span het 21-14 gewen.
De Kock sê die klub het `n hele klompie spelers van buurklubs bygekry en selfs `n paar van `n Johannesburgse klub gelok.
Daar lê twee klipharde wedstryde in die Assupolreeks voor, eers teen die NWU Pukke op hul tuisveld in Potchefstroom, en dan teen Wits op Northam.
“Ons sien uit daarna. Daar is baie wat ons daaruit kan leer om ons in die liga aan te help asook vir ons voorbereiding vir die Goue Bekerreeks in September,” het De Kock aan Pale Toe! gesê.