Limpopo-span vasbeslote om GB-stempel af te druk

Die Northam Platinum Rhinos is vasbeslote om vanjaar sy stempel op die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale reeks om die Goue Beker af te druk.

Die Limpopo Blou Bulle se verteenwoordiger het verlede jaar sy eerste ervaring in die reeks opgedoen uit ʼn liga wat tweedevlakstatus het.

Hy was weliswaar laaste in sy groep, maar het met drie bonuspunte – twee vir vier drieë en een vir naelskraaps verloor – beter as enige agteros gevaar. Sy beste vertoning was ʼn nederlaag van 35-36 teen die kwarteinder Evergreens (Suidwestelike Distrikte).

Die afgelope seisoen het hy strawwer ligateenstand gehad, en Flip de Kock, die span se hoofafrigter, sê Northam neem gewis vanjaar deel met die oogmerk om die uitspeelrondes te haal.

“Ek dink die reeks is wyd oop vanjaar, met ʼn stuk of tien spanne wat dit kan wen,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Northam se groep is maar weer ʼn moeilike een met die Goue Leeus en die Blou Bulle se wenners saam met ons, asook Zimbabwe se wenner, wat verlede jaar twee van sy wedstryde gewen het.

“Ons weet klubrugby in die Carletonliga en die Leeus se Pirates-grootuitdaagliga is van die sterkste in die land.”

De Kock sê Northam het vanjaar meer diepte en 12 van verlede jaar se groep het behoue gebly.

“Daar is dus baie nuwe bloed. Wat dit lekker maak, is dat van hulle verlede jaar vir ander klubs in die reeks gespeel het. Dit sluit vorige toernooiwenners in, wat baie ervaring na ons kamp bring.”

Hy sê die Rhinos het twee staatmakers as gevolg van beserings tydens die vier weke van strawwe voorbereiding vir die reeks verloor, maar die span het genoeg diepte om hul skoene vol te staan.

“Die mededinging om ʼn plek in die wedstrydgroep is straf, en niemand se plek is gewaarborg nie. Hulle moet week in en week uit hard daarvoor werk.”

De Kock sê verlede jaar se ervaring maak sake makliker vir die span.

“Die spelers weet wat om te verwag. Ons het goed voorberei en die ervaring sal die span help. Daar heers ʼn goeie gees, die manne geniet die spel en om saam te speel, en almal is ingestel op die span se visie.”

Hy sê die Rhinos sal die reeks wedstryd vir wedstryd benader, en weekliks die uitdagings evalueer.

“Ons wil graag sterker op ons spel fokus, en op dit wat ons goed doen.

“Hopelik sal dit genoeg wees om enige uitdagings wat daar mag wees te oorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.