Limpopo: Waterbergliga met hardlooprugby gewen

Mogol se spelers lig hul hoofafrigter, Freddie Welman, omhoog nadat die klub die Waterbergliga gewen het. (Foto: Recha Welman)

Mogol het Vrydag uitstekende hardlooprugby op die Hoërskool Ellisras se veld gespeel om die Limpopo Blou Bulle se Waterberg-reserweliga te wen.

Só laat weet Recha Welman, die klub se sekretaresse, nadat hy Nylstroom met 59-10 in die eindstryd verslaan het.

“Die span het die hele wedstryd by sy spelpatroon gehou. Die skare is behoorlik vermaak deur Kill-A-Bug Mogol se aangeevermoë, uitmuntende duikslae en vinnige voete.

“Moenie dat die telling julle mislei nie. Nylstroom was waardige teenstanders, maar Mogol se verdediging was eenvoudig briljant.”

Sy sê daar kan voorwaar geen individu as uitblinker in dié wedstryd uitgesonder word nie, die hele Mogolspan het sy hart uitgespeel, en gewis die oorwinning verdien.

Die kampioenspan. (Foto: Recha Welman.)

Die span het die hoofafrigter, Freddie Welman, as “speler” van die wedstryd benoem. Dis sy eerste jaar van afrigting.
Mogol het nege drieë gedruk: deur Albert Maritz (slot), Nils Meiring (agsteman), Jaco Louw (losskakel), Heinri Markgraaf (linkervleuel), Jean Myburgh (binnesenter), Jack Lamola (buitesenter), Christiaan Ras (regtervleuel), Albert Schoeman (heelagter) en Ruan de Jager (plaasvervanger).

Welman (Recha) loof die borge, steunspan en ondersteuners vir hul rol in die klub se sukses die afgelope seisoen.

Sy sê Mogol het vanjaar slegs drie wedstryde verloor: “die eerste vriendskaplike wedstryd teen Northam, wat puik in Limpopo se Boet Fick- Senior Liga vaar; die eerste Assupol-wedstryd teen Hartbeespoort, wat op daardie tydstip in 32 opeenvolgende wedstryde onoorwonne was; en ʼn wedstryd teen Nylstroom, wat op dieselfde dag as een van ons spelers se begrafnis geval het”.

Welman sê die rugby is nie afgehandel nie, en benewens sewesrugby beplan Mogol ʼn raakrugbytoernooi op Ellisras.

Nuwe spelers en borge is welkom, en kan per e-pos met haar by [email protected] in verbinding tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ellisras ·

Dit is hier waar ware RUGBY gespeel word. Op die klein velde met net 100 of 200 toeskouers. Waar dit vir Rugby gedien word. Nie vir ‘n vet meestal onverdiende tjek aan die end van die maand nie.

Recha Welman ·

WEL gedaan Mogol. Ons het hom verdien!!!! Uitstaande rugby gewees. Ek glo dat julle raak gesien word en dat ons ook die nodige ondersteuning gaan ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.