Limpopoliga: harlooprugby lewer mooi drieë

Goeie hardlooprugby in die Blou Bulle se herskikte Boet Fick- Senior Liga is Saterdag met mooi drieë afgerond.

Só laat weet SJ Jonker, die afrigter van Potgietersrus, rakende sy span se kragmeting teen Louis Trichardt, wat Potties gemaklik met 31-12 gewen het.

Hy sê die span het die wedstryd met sy jong manne begin om hulle genoeg wedstrydtyd op eerstespanvlak te gee.

“Die span toon al vroeg in die seisoen goeie karakter, en dis waarlik nodig wanneer die halfeindronde aanbreek. Die wedstryd is in goeie sportmansgees gespeel.”

Hans du Plessis (kaptein) was die beste agterspeler, en die speler van die wedstryd. Wikus Pretorius was die beste voorspeler.

Riaan Laidlaw, Du Plessis, Renier Labuschagne, Klaas Maloba en Jan Vorster het die wenspan se drieë gedruk.
Vorster, “die Liefling van Potties”, het drie uit die vyf verdoel.

♦ Daleen Oosthuizen, die sekretaresse van Pietersburg Noordelike, laat weet Noordelikes het Letaba Saterdag met 28-19 (rustyd 21-14) en 36-10 (rustyd 24-5) geklop.

Die linkervleuel, Koning Janse van Rensburg, het twee van die eerste span se drieë gedruk, en Scheepers Lubbe (flank) en Esias van Wyk (regtervleuel) die ander twee.

Vir die tweede span het Hulsani Masindi (slot) ʼn tweekuns behaal. Francois Lottering (skrumskakel), Jacques Strydom (heelagter), Lufuno Ramcyada en Lucas Tongwane (plaasvervangers) het die res gedruk, en Eben Verster (losskakel) het drie verdoel.

♦ In die Waterbergreserweliga het Mogol met 27-8 teen Northam III gewen.

Recha Welman, die sekretaresse van Mogol, laat weet dis die eerste keer in ‘n baie, baie lang tyd dat Mogol teen Northam wen. “Nie een van die komiteelede of spelers kan eers onthou wanneer nie.”

Tussen Mogol se uitblinkers was die puntemakers Bertus van der Merwe (drie), Marinus Botha (drie), Stephen Shepherd (drie, doelskop), Leon Haasbroek (drie, strafdoel) en Heinri Markgraaf (doelskop).

Haasbroek was die beste agterspeler, en die speler van die wedstryd. Kabelo Ndoweni was voorlangs die beste.

Welman sê die spelers se uitmuntende toewyding, deursettingsvermoë en spangees is gewis onderliggend aan die span se sukses.
♦ In nog ʼn wedstryd in die reeks het Nylstroom op die Hoërskool Nylstroom se veld met 17-0 teen Phagameng gewen.

Martin Kleynhans, die voorsitter van Nylstroom, sê dit was ʼn baie fisieke wedstryd, en duidelik dat albei spanne bietjie verroes was. Hulle het ook nog heelwat proefnemings gedoen met die oog op die seisoen wat voor lê. “Hoewel Nylstroom baie jong spelers op die veld gehad het, was dit die ervaring van ʼn paar senior manne wat die deurslag gegee het. Die name van Tiaan Lottering (stut), Gideon Jacobs en Pieter Pretorius (flanke), Tiaan Bestbier (senter) en die kaptein en heelagter, Juandré Nieuwenhuys, kan in dié opsig uitgesonder word.”

Bestbier, Thabang Molefe en Clinton Swart het Nylstroom se drieë gedruk. Nieuwenhuys het een verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese van Schalkwyk ·

Puik verslag en beslis van die mooiste Rugby-embleme wat sekerlik op hierdie aardbodem te kry is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.