Limpopoliga: Northam en Potties onoorwonne

Die Northam Rhinos en Potgietersrus is met die jongste publikasie van die punteleer van die Blou Bulle se Limpopostreek nog onoorwonne in die Boet Fick- Senior Liga.

Die Rhinos het ná drie wedstryde 15 ligapunte en Potties tien ná twee wedstryde.

Northam se tweede span is eweneens onoorwonne in die Boet Fick- Tweede Liga en spog met 15 punte ná drie wedstryde.

In die Waterberg-reserweliga is albei Mogol se spanne voor, met die eerste span onoorwonne ná drie wedstryde; en in die Noordelike reserweliga loop die Universiteit van Limpopo (Unilim) voor ná ʼn sege en ʼn gelykop-uitslag in twee wedstryde.

♦ Recha Welman, Mogol se sekretaresse, laat weet die eerste span het Kwaggas (Warmbad) met 26-18 in hul jongste kragmeting geklop. Kaggas II het Mogol II naelskraap met 18-17 in ʼn vriendskaplike wedstryd geklop.

Sy sê Mogol se eerste span het sy sege gewis aan sy uithouvermoë te danke.

“Kwaggas se jong spelers het baie druk op Mogol geplaas, maar Mogol se ondervinding en vermoë om koelkop te bly onder druk, het gesorg vir die oorwinning en bonuspunt.”

Die afrigter, Freddie Welman, sê die hele span het uitstekende rugby gespeel.

“Daar was waarlik nie ʼn enkele speler op die veld wat nie sy plek verdien en verdedig het nie.”

“Dit was ʼn harde wedstryd en albei spanne het goeie rugby gespeel.

“Mogol se verdediging was uitstekend en die span het waarlik soos een man gespeel.”

Albert Maritz, Berne Mitton, Jean Myburgh en Kobus Pretorius het die wenspan se drieë gedruk.

Welman sê die tweede span het die Kwaggas so ʼn bietjie onderskat en nie by die wedstrydplan gehou nie.

“Die span het egter sy les hieruit geleer en sal vir die volgende ligawedstryd 100% gereed wees.”

Ettiene Swart, Leander Illingworth en Bennie van Zyl het die oog in die wedstryd gevang.

Van Zyl (twee) en Lloyd Seleka het Mogol II se drieë gedruk, en De Wet Joubert het een verdoel.

♦ Etienne Erwee, ʼn woordvoerder van Pietersburg Noordelikes, laat weet die klub se derde span het die Universiteit van Venda met 10-5 (rustyd 5-0) op Thohoyandou geklop.

“Noordelikes III het begin wys watter potensiaal die span in sy geledere het. Hy het met 80% op sy vorige vertoning verbeter en met die oorwinning oor ’n omgekrapte Univen getoon hy kan nie buite rekening gelaat word ná een swak vertoning nie.”

Dumpies van der Merwe, Corné van Geyn en die veteraan-skrumskakel Theyman Jongbloed het agterlangs uitgeblink, met die voorspelers Rudolph Adendorf en Tienie Janse van Rensburg (agsteman) wat goed vertoon het.

Jongbloed en Janse van Rensburg het die wenspan se drieë gedruk.

Opgesomde punteleer –

Boet Fick- Senior Liga

Northam 15, Potties 10, Noordelikes 6, Letaba 4, Louis Trichardt o.

Boet Fick- Tweede Liga

Northam 15, Noordelikes 10, Louis Trichardt 5, Letaba 4, Potties 0.

Boet Fick- Reserweliga Noord

Unilim 7, Noordelikes 4, Universiteit van Venda 3, Pietersburg 0.

Boet Fick-Waterberg-reserweliga

Eerste spanne

Mogol 10, Vaalwater 4, Kwaggas 1, Nylstroom 0.

Tweede spanne

Mogol II 9, Amandelbult I 5, Northam III 4, Phagameng I 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.