Limpopoliga: Nylstroom verras teen Vaalwater

Nylstroom het in die jongste weekronde van die Limpopo Blou Bulle se Waterberg-reserweliga verras deur Vaalwater se doppie op sy tuisveld te klink.

Martin Kleynhans, Nylstroom se voorsitter, laat weet sy span het die wedstryd met 27-22 gewen, nadat hy rustyd 10-5 voor was.

Hy sê Vaalwater het die eerste helfte geheel en al oorheers, maar kon net een drie vir sy moeite wys, terwyl Nylstroom sy bitter min geleenthede ten volle benut het.

“Nylstroom se verdediging was rotsvas, en Vaalwater het nie ʼn antwoord daarop gehad nie. In die tweede helfte het albei spanne die bal meer lug gegee, en was dit uiteindelik een van die skouspelagtigste wedstryde in ʼn baie lang tyd.”

Kleynhans sê dit was duidelik dat die bekwame afrigters van Nylstroom, Quintin Coetzer en Jannie Venter, hul huiswerk deeglik gedoen, en hul span na ʼn uitstekende oorwinning gelei het.

Hy sonder Heinru du Preez en Juandré Niewenhuis as Nylstroom se beste spelers uit.

Jaco Matthee, Pieter Pretorius en Niewenhuis het die wenspan se drieë gedruk.

Tiaan Bestbier het 12 punte met drie doelskoppe en twee strafdoele behaal.

Voorloperstryd

♦ Flip de Kock, die sekretaris en afrigter van die Northam Rhinos, berig die Rhinos het die stryd tussen die voorlopers in die streek se Boet Fick- Senior Liga teen Potgietersrus gewen.

Northam het die kragmeting met 34-19 beklink, nadat die spanne rustyd met 14-14 gelykop was.

“Die Rhinos het gesukkel om aan die gang te kom, en deurentyd balbesit weggeskop, wat Potties baie aanvalsgeleenthede gebied het.

“In die tweede helfte het Northam meer gestruktureerde rugby gespeel, en groter momentum gekry.”

Hy sê die Rhinos is deurentyd van stryk gebring deur voorvalle weg van die spel af, wat ongesiens plaasgevind het.

“Patrick Hattingh (skrumskakel) het ná ʼn besering die eerste keer in ʼn lang tyd ʼn wedstryd begin, en hy was oudergewoonte ʼn handvol om die losgemale.

“Schalk van Heerden het in die tweede helfte gewys waarom hy so hoog aangeslaan word. Met sy wegbarslopies het hy Northam op die voorvoet geplaas, en sy span toegelaat om die oorhand te kry.

“Agterlangs het die jongeling Wiehan Koen (vleuel) weer die oog gevang en ʼn barshou gespeel. Dit maak nie saak in watter posisie hy ʼn kans kry nie, wanneer hy op die veld is, speel hy met oorgawe, en maak gewis ʼn verskil,” sê De Kock.

Onverklaarbaar

“Justin Botha se skopskoen is gewis saam Potties toe, en hy het die telbord aan die gang gehou.”

Hy meld dat die wedstrydbeamptes onverklaarbare bykomende tyd in die tweede helfte toegelaat het.

“Dit was nie een van Northam se beste wedstryde nie, maar die span het steeds ʼn sterk karakter getoon deur die knoop deur te hak.

“Ons het geweet dit sal ʼn harde, fisieke wedstryd wees, maar ons is tevrede met die bonuspuntsege, en kyk vorentoe.”

Van Heerden, Hattingh (twee) en Koen het Northam se drieë gedruk. Justin (Juice) Botha het al vier verdoel, en met twee strafdoele geslaag om persoonlik 14 punte by te dra.

De Kock berig Northam II het Potties II se turf met 66-7 laat sit.

“Potties het die eerste 15 minute saamgesels, maar daarna het die Rhinos hom oorskadu en altesaam tien drieë gedruk.

Oorheers

“Dié span oorheers op die oomblik die Tweede Liga en ek kan my nie indink dat enige span hulle sal kan klop nie.

“Northam se diepte is vanjaar deurslaggewend, en die tweede span se prestasie onderstreep dit.”

De Kock sê Whelan Fortuin het meer as sy deel in die drieëfees gedoen, en hy spog met ʼn driekuns. “Hashiem Gasant (flank) het eweneens ʼn barshou gespeel, en is met twee drieë beloon.

“Johan Harmzen het self twee keer agter die doellyn gaan kuier en met agt uit tien doelskoppe geslaag om 24 punte op te stapel.”

De Kock sê die span het dusver in vier ligawedstryde 27 drieë gedruk en slegs vier afgestaan.

“Dit toon die span speel goeie, aanvallende hardlooprugby, maar kan ook verdedig as dit nodig is,” het hy aan Pale Toe! gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.