Limpopoliga: ontwrigting keer Northam nie

Ontwrigting vanweë laat onttrekkings het nie voorkom dat Northam Rhinos Saterdag albei sy wedstryde in die Limpopo Blou Bulle se nuwe Boet Fick- Senior Liga gewen het nie.

Die eerste span het Louis Trichardt met 41-13 geklop, en die tweede het met 31-8 gewen.

Flip de Kock, die sekretaris en afrigter van Northam, sê hy moes kort voor die wedstryd noodgedwonge veranderinge aanbring as gevolg van spelers wat moes onttrek.

“Dit het Northam voorlangs so ʼn bietjie ontwrig, maar hy het steeds die vaste fasette oorheers.

“Die Rhinos het baie goed begin, gou-gou met 10-0 voorgeloop, en daarna weer in hul dop gekruip. Die hele wedstryd is daardeur gekenmerk dat Northam soms uitstekend was, en klinies korrek gespeel het; en dan was daar weer rukke vol hanteerfoute wat geleenthede op die aanval verkwis het,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Die agterlyn het gewys dat hy met die beste kan saampraat, en was baie gevaarlik. Aanvalle van oral op die veld het dit vir Louis Trichardt baie moeilik gemaak om te verdedig.

“’n Mens het met tye sommer hoendervleis gekry as jy sien hoe die agterlyn die bal hanteer, en dinge op volle vaart doen.

“Die senterpaar Wouter de Villiers en Wortel Loots was baie gevaarlik.

Foutloos

“Die terugkeer van Justin (Juice) Botha op losskakel het baie probleme opgelos, en hy was uitstekend in sy eerste wedstryd terug op die veld. Ook sy skoppe pale toe was foutloos.

“Daar wag egter nog baie werk in die weke wat voorlê, voor ons volgende wedstryd 6 Mei teen Noordelikes op ons tuisveld.

“Ons sal gewis aan verskeie aspekte aandag gee om sodoende ʼn beter vertoning met ons volgende wedstryd te lewer.

“Hopelik kan ons dan op volle sterkte wees, iets wat tot dusver die seisoen onmoontlik was as gevolg van beserings en persoonlike probleme wat spelers verhoed het om te speel.”

Al hoe beter

De Kock sê Northam se tweede span het aanvanklik gesukkel om op dreef te kom, maar het namate die wedstryd gevorder het al hoe beter gespeel.

“Dit kan dalk toegeskryf word aan die feit dat hulle ses weke laas ʼn wedstryd gespeel het.

“Voorlangs het Eric Pistorius op flank ʼn barshou gespeel, en tussen die agterspelers het die jong senter Wiehan Koen oudergewoonte sy hand opgesteek.

“Al is die span ook ontwrig vanweë spelers wat kort voor die wedstryd opgeskuif is om die vakatures in die eerste span te vul, het hy steeds goeie rugby gespeel, en was dit nie vir ʼn paar aanvalle wat skipbreuk gely het nie, kon die telling dalk anders gelyk het.”

Mogol se Kabelo Ndoweni, Nico Fourie, Stephen Shepherd, Jean Fraser, Jaco Louw en JP Fereirra in aksie teen Nylstroom. (Foto: Chantelle Homann)

♦ Kill-A-Bug Pest Control Mogol se wenlopie duur voort, het Recha Welman, die klub se sekretaresse, laat weet.

Die eerste span het Nylstroom met 36-25 geklop, en die tweede het met 21-0 teen Phagameng gewen.

Freddie Welman, die klub se afrigter, sê voortdurende man-teen-man-verdediging en ʼn honger na oorwinning het die grondslag vir die sege gelê.

Albert Maritz (slot) het veral die oog gevang met sy uitmuntende duikslae wat Mogol heeltyd op die voorvoet gehou het.

Mogol se drieë is gedruk deur JP Fereira (haker), Nico Fourie (stut), Ruan de Jager (agsteman), Jean Myburgh (binnesenter), Stephen Shepherd en die kaptein Jaco Louw (buitesenter), laasgenoemde s’n ʼn onderskepdrie van diep uit Mogol se eie gebied.

Myburgh het drie daarvan verdoel.

Die tweede span se sege is verseker deur sy uitstekende spangees en momentum van die voorvoetbal wat die agttal aan die agterlyn besorg het.

Heinri (The Magic) Markgraaff het met sy systapvaardigheid die verdediging voortdurend aan die raai gehou.

Corné van Zyl (stut) is aangewys as die speler van die wedstryd, en Welman sê hy het meer gedoen as wat van ʼn stut verwag word.

Vernon Crail (agtsteman), Stephen Shepherd (skrumskakel), Jacques Fullard (buitesenter) het vir die tweede span uitgeblink, en die talentvolle Divan Clur het in sy laaste wedstryd vir Mogol drie uit drie skoppe deur die pale gejaag.

Cameron Potgieter is met harsingskudding in die hospitaal opgeneem.

Mogol se volgende wedstryd is 5 Mei teen die Kwaggas op Bela-Bela.

♦ Jannie Venter, Nylstroom se afrigter, bestempel die wedstryd teen Mogol as skouspelagtig, en sê hoewel Nylstroom oor die algemeen sy man goed gestaan het, het Mogol die oorhand gekry deur die besoekers se foute uit te buit en in punte te omskep.

“Mogol se vaart op die punte was veral ʼn hoogtepunt.”

Meyer Ferreira (slot) was Nylstroom se speler van die wedstryd, en hy is goed bygestaan deur die flanke Jaco Matthee en Clinto Groenewald, Martin van Heerden (senter), Juandré Nieuwenhuis (skrumskakel) en Tiaan Bestbier (losskakel).

Matthee, Groenewald en Heinru du Preez het die span se drieë gedruk, en Bestbier het tien punte met twee doelskoppe en twee strafdoele bygevoeg.

♦ Etienne Erwee, ʼn woordvoerder van Pietersburg Noordelikes, sê die klub se derde span is oorrompel deur ʼn span van die Universiteit van Limpopo wat eenvoudig baie fikser was.

Unilim het met 27-14 gewen nadat hy rustyd met 17-7 voor was.

Erwee sê Noordelikes sal beter moet saamspeel, en die span se gebrek aan fiksheid het hom heelwat hoofbrekens besorg.

Tony da Costa (voor) en Theyman Jongbloed (agter) was die spelers van die wedstryd.

Die binnesenter Christo van der Merwe het albei Noordelikes III se drieë gedruk, en Danie van Staden het dit verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.