Limpopoliga: Potties leer Noordelikes rugbyles

Potgietersrus het Pietersburg Noordelikes Saterdag ʼn rugbyles geleer, laat weet die wenspan se afrigter, SJ Jonker, oor die spanne se kragmeting in die Blou Bulle-Limpopostreek se Boet Fick- Senior Liga.

Potties het die kragmeting met 52-26 gewen.

Jonker het aan Pale Toe! gesê die span het een van die beste vertonings gelewer wat hy as afrigter gesien het.

“Potties het sonder ophou aangeval en met 90% van sy aanvalspogings punte aangeteken. ʼn Vinnige tempo is deurentyd gehandhaaf.

“Al die spelers verdien lof met hul groot prestasie.”

Jonker sê behalwe vir Potties se vier geel kaarte (teenoor Noordelikes se een), was die span Saterdag op die veld om rugby te speel.

“Potties het binne dertig sekondes van die afskop af ʼn drie aangeteken, en sodoende die wedstryd uit die staanspoor op die voorvoet begin.

“Hy het agt drieë gedruk teen die vier van Noordelikes.”

Wikus Pretorius, Jaco van Heerden, Renier Labuschagne, Hans du Plessis (twee), Adriaan Laidlaw en Klaas Maloba (twee) het vir die wenspan agter die doellyn gaan kuier.

Anthony Hawken het vyf daarvan verdoel, en Du Plessis een.

Laasgenoemde, ʼn agterspeler, was die speler van die wedstryd, en Deon Klein die beste voorspeler.

Potties speel 13 Mei sy eerste tuiswedstryd in die nuwe liga met sy krag-teen-krag-grondslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.