Limpopoliga: Rhinos druk agt keer teen Letaba

Limpopo se Goue Bekerspan, Northam Rhinos, het Donderdag agt drieë in sy wedstryd in die Boet Fick- Senior Liga op Tzaneen teen Letaba gedruk.

Die besoekers het met 56-15 gewen.

Flip de Kock, Northam se sekretaris en hoofafrigter, sê hulle moes ʼn paar veranderinge aanbring omdat baie van die spelers vir die langnaweek weggegaan het, maar die eerste span het baie goed begin.

“Voorlangs het die skrum weer oorheers met die vaste vyf wat meer as hul kant gebring het.

“Attie Louw het die bal goed gedra en telkemale die verdediging geklop,” laat De Kock weet.

“Die agterlyn in sy geheel was baie gevaarlik, en het vir sewe van die agt drieë gesorg.

“Hughwinn Majiedt het ʼn driekuns behaal en Wouter de Villiers, Josh Finlay, Amri Schlebusch en die heelagter, Chris Juries, het elk een keer gaan druk.

“De Villiers was baie gevaarlik met sy sterk lopies en goeie balverspreiding.

“Jimmy Baloyi (agtsteman) het regtig sy hart uit gespeel. Hy het goeie balle voorentoe geneem, en sy verdediging was uitstekend.”

De Kock sê Northam se tweede span het met ʼn goeie poging vorendag gekom en Letaba II met 35-17 geklop.

“Die spelers het baie gesukkel om aan die swaar veld gewoond te raak, en dit het gewis die manne se fiksheid beproef.

“Johan Harmzen (linkervleuel) het goed vertoon en 20 punte met twee drieë en vyf doelskoppe aangeteken.

“Voorlangs het die haker Gerhardus Stiglingh ʼn barshou gespeel. Hy vertoon elke week al hoe beter.

“Mzukizi Metusi (regtervleuel) was baie gevaarlik wanneer hy aan die hardloop gegaan het, en hy is beloon met ʼn drie.”

Die Rhinos speel Saterdag teen Pietersburg Noordelikes op Northam.

♦ Noordelikes II het Potgietersrus II met 39-22 verslaan (rustyd 17-12).

Lieb Coetzer, die wenspan se afrigter, sê hulle het geweet die wedstryd teen Potties sal ʼn harde stryd oplewer.

“Albei spanne het die bal wyd probeer speel en die bal die werk laat doen. Dinge het nie volgens plan verloop nie, en die rustydtelling was nie waarop ons gehoop het nie.

“Ons het die wedstrydplan verander en die bal tussen die voorspelers gehou. Spelers soos Johan Stroh (flank) en die slotte Walter Mashindi en Francois Binneman het die taak met oorgawe aangepak, maar daar is nog harde werk wat voorlê vir die komende wedstyde.”

Mashindi, Binneman, Stroh (twee), Evan van Niekerk (losskakel), Tiaan Redman (regtervleuel) en Ludick Mashele (linkervleuel) het Northam II se drieë gedruk. Van Niekerk en Martin Stone het elkeen een verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.