Limpopoliga: sewe pragdrieë beklink sege

Dit was werklik sewe mooi drieë wat Pietersburg Noordelikes Saterdag in staat gestel het om Louis Trichardt met 47-19 in Limpopo se Boet Fick- Senior Liga te verslaan.

Só laat weet Freek Romijn, die klub se hoofafrigter, aan Pale Toe!
“Dit was een van Noordelikes se beste vertonings vanjaar, en die samespel tussen voor- en agterspelers was goed.

“Zimba Memese (slot) was briljant, en veral sy verdediging het baie beïndruk.”

Romijn sê agterlangs het Zander Byleveldt (heelagter), Mynhard Smith (binnesenter) en Koning Janse van Rensburg (linkervleuel) almal baie goeie vertonings gelewer.

Gregory Claassens (buitesenter), Smith, Austin de Bruin (plaasvervanger-flank), Nico Els (flank), Francois Lottering (regtervleuel), Thabo Thladi (slot) en Godknows Mavera (plaasvervanger-losskakel) het Noordelikes se drieë gedruk.
Byleveld het ses uit die sewe verdoel.

Noordelikes se volgende wedstryd is 3 Junie tuis teen Letaba, en Romijn sê die klub sal die geleentheid benut om een van sy jare lange staatmakers, Theyman Jongbloed, te groet.

Die skrumskakel hang sy stewels op, en dit sal sy laaste wedstryd vir Noordelikes se eerste span wees.

Gehaper

Jongbloed speel al van 2006 af vir die klub se eerste span, en het onder meer Vodacombekerrugby vir die Limpopo Blou Bulle gespeel.

Lieb Coetzer, die afrigter van Noordelikes se tweede span, laat weet sy span het ʼn goeie eerste helfte teen Louis Trichardt beleef, maar dinge het in die tweede helfte gehaper.

Noordelikes II het nietemin met 41-21 gewen; nadat hy rustyd met 27-7 voor was, en Louis Trichardt II sy voorsprong in ʼn stadium tot 27-21 laat krimp het.

Coetzer sê die tempo was vroeg-vroeg baie vinnig, en Louis Trichardt se agttal was groot en fisiek.

Vuur met vuur

“Ons het dit nie anders verwag nie, en het vuur met vuur beveg.”

Hulisani Mashindi (slot), Jason Pretorius (buitesenter en onderkaptein, twee), Mandla Mantonsi (haker) en Henco Swanevelder (linkervleuel) het in die eerste helfte drieë gedruk en Martin Stone (heelagter) het een daarvan verdoel.

“Die tweede helfte was ʼn perd van ʼn ander kleur. Noordelikes het op sy louere gaan rus en twee vinnige drieë afgestaan.

“In die laaste kwartier het Noordelikes weer die vuur aangesteek, en met drieë deur die skrumskakel Sias van Wyk en die plaasvervanger-vleuel Ludick Mashele teruggeslaan. Laasgenoemde het albei verdoel.”

Etienne Erwee, die afrigter van Noordelikes III, sê die span het Saterdag die eeste keer sy volle potensiaal benut, en met 34-19 (rustyd 19-12) teen die Universiteit van Venda gewen.

Driekuns

“Die voorspelers het die grondslag vir die oorwinning met sterk skrumwerk en puik dryfspel gelê.

“Die agterlyn het met die baie skoon balbesit gedy, en die buitesenter Dumpies van der Merwe se driekuns is ʼn duidelike voorbeeld daarvan.”

Theyman Jongbloed (skrumskakel), Tienie Janse van Rensburg (flank), Van der Merwe en die jong haker André Erasmus het uitgeblink.

Naas Van der Merwe se driekuns het Jongbloed, Tiaan Redman (linkervleuel) en Stephanus Coetzer (plaasvervanger-linkervleuel) drieë gedruk. Barend Jacobsz (losskakel) het twee verdoel.

♦ Nylstroom het sy jongste wedstryd teen Warmbad op die veld van Hoërskool Nylstroom met 15-11 gewen, nadat Warmbad rustyd met 6-3 voor was.

Martin Kleynhans, die voorsitter van Nylstroom, sê dit was ʼn klipharde wedstryd wat voor beslis is, en die agterlyne het weinig van die bal gesien.

“Hoewel Warmbad die oorhand in die skrums gehad het, was dit in die lynstane waar Nylstroom die septer geswaai het, en uiteindelik was dit deurslaggewend.

“Meyer Ferreira (flank), Pieter Pretorius (agsteman) en Juandré Nieuwenhuys (heelagter) het vir Nylstroom uitgeblink. Pretorius is aangewys as speler van die wedstryd.”

Pretorius en Jaco Matthee het Nylstroom se drieë gedruk. Martin van Heerden het met ʼn strafdoel en ʼn doelskop geslaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.