Lionel Wilson: ʼn jintelman uit graniet gekap

Lionel Wilson – rotsvas in die laaste vesting (Foto: stuff.co.nz)

Toe die oud-Springbokheelagter Johnny Buchler ʼn paar weke gelede oorlede is, was daar bitter min huldeblyke van die rugbybase se kant af.

Ek hoop darem hulle sal dié keer ʼn bietjie meer erkenning gee aan nog ʼn Bok-legende, die oud-heelagter Lionel Wilson, wat in Nieu-Seeland oorlede is.

As hulle nie te veel van Wilson weet nie, kan hulle gerus die huldeblyk  op die Nieu-Seelandse webwerf, stuff.co.nz , gaan lees.

Ek was ʼn tjokkertjie toe Wilson vir die Bokke en Westelike Provinsie gespeel het. In Pretoria was die WP-spelers, soos Jannie Engelbrecht, Wang Wyness en Mike Lawless, nie gewild nie.

Ja, vir Wilson en John Gainsford het ons baie tyd gehad, want hulle was “uit ʼn ander granietblok” gekap.

Wilson, wat 27 toetse vir die Bokke tussen 1960 en 1965 gespeel het (die meeste deur ʼn Bokheelagter tot in 1996) was een van daardie spelers met wie jy nooit fout kon vind nie. Hy het net een toets, in 1960-’61 teen Skotland, weens ‘n besering misgeloop toe Dave Stewart heelagter gespeel het.

As die bal hoog op Wilson geskop is, het hy dit gevang en uitgeskop. Nie ver nie, maar uit.

Wanneer ʼn teenstander op hom afgepyl het, het hy hom platgetrek.

Ek wonder of hy in sy hele loopbaan nege duikslae gemis het, soos Raymond Rhule in een Saterdag teen die All Blacks in Albany.

Die Bokke het in 1965 ʼn nagmerrietoer in Nieu-Seeland beleef en kon net een toets wen. Tog is Wilson as een van Nieu-Seeland se ses spelers van die jaar aangewys.

Hy was plat op die aarde, ʼn jintelman en het altyd tyd gehad om sy handtekening uit te deel of ʼn geselsie met ʼn jong ondersteuner aan te knoop.

Dít was maar moeilik, want ek het hom in 1963 ná die eerste toets teen die Wallabies as “oom” aangespreek, waarop by skamerig geglimlag en twee keer sy handtekening in my handtekeningboekie geteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niel Marw ·

Ek was in gr.2 toe ek Speedy in sy eerste toets in Bloem Don Clarke se up and unders sien trotseer het . Nie n H. O. nie , maar n heelagter wat sonder tierlantyntjies sy werk gedoen het . Vang , skop uit en tackle soos n kryger . Lionel Wilson jy sal in my boekie altyd n grote bly omdat jy so betroubaar was . Jou plek is leeg onder Springbokgeelagters .

Lol ·

Pieter Kruger : jy het in hierdie berig bevestig dat jy/ “ons” eintlik geen tyd het vir enige speler/ provinsie suid van Pretoria? Moenie iemand in sy graf gebruik om jou standpunt te motiveer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.