Lions behaal sukkel-sege, Kings wen en Canes mors met Brumbies

Andries Coetzee was deurgaans lus vir hardloop. (Foto GB Jordaan)

Die Lions het Vrydagaand klippe gekou om die Jaguares op Ellispark onder te kry; die Kings het slegs hulle tweede wedstryd van die seisoen en ook hul tweede ooit in Australië gewen; en die Hurricanes het met 42 punte ná rustyd die Brumbies oorrompel.

Die onderskeie tellings was: Lions 24 Jaguares 21; Kings 26 Waratahs 24; Hurricanes 56 Brumbies 21.

Die Lions was op hulle tuisveld slordig met hulle hantering, is oortuigend by die afbreekpunte geklop deur ʼn span wat gereeld meer spelers daar gehad het, en het ondanks lekker hardlooprugby nie die skerpheid en afronding met die bal in die hand getoon wat ʼn mens van hulle verwag nie.

Daar was heelwat swak hanteerwerk en swak opsies – maar as ʼn span nie goed speel nie en steeds teen ʼn amperse nasionale span kan wen, is dinge seker nie so sleg nie.

Die rustydtelling was 14-7 in die Lions se guns, maar twee baie goeie drieë binne die eerste tien minute na die hervatting het die Jaguares die vertroue gegee wat hulle wou gehad het.

Van mooi drieë gepraat:  Harold Vorster en Lions Mapoe het met twee goeie breekslae in die eerste helfte die aanvanklike voorsprong help bewerkstellig. Vorster het weer ʼn skuins  lyn na binne gehardloop en daar is kwalik ʼn hand op hom gelê. Mapoe het gebreek, en met twee pypkanne, die laaste ʼn juweel, onder die pale gaan druk.

Hul derde drie was net so goed. Andries Coetzee, wat heelaand lus was vir hardloop, het uit sy kwartgebied gehardloop, die bal is deur Vorster aan Courtnall Skosan gegee en hy het rieme neergelê.

Toe hy na binne sny en moontlik gevang sou word, was Ruaan Ackermann daar om af te rond.

Elton Jantjies het vier uit vier oorgeskop, en kort voor die einde die wedstryd se enigste strafdoel vir die sege oorgeklits.

Die swakste vertoning van die Lions vanjaar kan seker aan die lamheid en euforie van die Stormerswedstryd in hulle lywe en koppe toegeskryf word.

Maar dit was nietemin nie ʼn vertoning van ʼn kampioenspan nie …

Puntemakers –
Lions (14) 24: Drieë: Harold Vorster, Lionel Mapoe, Ruan Ackermann. Doelskoppe: Elton Jantjies 3. Strafdoel: Jantjies.
Jaguares (7) 21: Drieë: Matias Orlando, Rodrigo Baez, Guido Petti. Doelskoppe: Nicolas Sanchez 3

Waratahs vs Kings in Sydney

Die Kings was in Sydney rustyd met 7-17 agter teen die Waratahs. Hulle het eers na 69 die eerste keer voorgeloop en toe die voorsprong na nege punte gerek met ʼn strafdrie. Hulle was nege punte voor en die laaste drie van die tuisspan na die eindtoeter – hul enigste punte na rustyd – het niks saakgemaak nie.

Hierdie keer was dit die Baaienaars se voorspelers wat die grondslag gelê het, met veral Chris Cloete en sy losvoorspelermaats Tyler Paul en Michael Willemse uitstaande.

Puntemakers –
Kings (7) 26: Drieë: Justin Forwood, Masixole Banda, Michael Willemse, strafdrie (7 punte). Doelskoppe: Lionel Cronjé 2.
Waratahs (17) 24: Drieë: Taqele Naiyaravoro 2, Rob Horne, Cameron Clark. Doelskoppe: Bernard Foley 2.

Hurricanes vs Brumbies in Napier

In Napier was die Hurricanes gou-gou met 14-0 voor, maar toe het die Brumbies drie goeie drieë gaan druk, een moontlik die beste van die seisoen, en rustyd met 21-14 voorgeloop.

Die vreugde van die Brumbies sou egter nie hou nie. Die Hurricanes was vies, het alles bymekaar gesit wat hulle moes en 42 punte teen geen in die tweede helfte aangeteken om maklik, opwindend en baie, baie oortuigend met 56-21 te wen.

Puntemakers –
Hurricanes (14) 56: Drieë: Vince Aso 3, Cory Jane, Callum Gibbins 2, Mark Abbott, Ngani Laumape. Doelskoppe: Jordie Barrett 7, Otere Black.
Brumbies 21 (21): Drieë: Tevita Kuridrani, Sam Carter, Joe Powell. Doelskoppe: Wharenui Hawera (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Vir die Lions ‘n geval van ‘n mislukte proefneming.Die ouens wat gewoonlik op die bank as vervangers sit,kon nie as beginnersdie nodige momentum verskaf nie.Gelukkig kon die gereelde beginners die knoop deurhaak.

Dus heelwat stof tot nadenke.Indien die Cheetahs en Kings wat uitstekend teen die Waratahs was,wel weggelaat gaan word kan die Lions gerus ‘n paar manne van die spanne probeer kontrakteer,want ek is bevrees met nog ‘n besering of twee,is dit neusie verby vir die Lions.

Frans C ·

Nog slegte nuus vir die Lions en Springbokrugby.Kriel uit toer met kniebesering.Dit wys weereens dat net spanne met baie diepte in die toernooi gaan oorleef.Na die pak slae wat die Stormers teen die Crusaders 57-24 gekry het en ‘n senter (du Plessis) verloor het bewys weereens dat Suid Afrika dit nie kan bekostig om sy rugbykrag oor 6 spanne te versprei nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.