Lions bo in wedstryd op ʼn goeie dag vir SA rugby

Coenie Oosthuizen en Warren Whiteley se gesigte is vertrek van die inspanning terwyl die groot stut op pad is doellyn toe vir sy drie (Foto: GB Jordaan)

Ná ’n riller tussen die Lions en die Sharks wat ook uitstekende rugby opgelewer het, kan Suid-Afrikaners vanaand lekker gaan slaap met al vyf spanne wat Saterdag meer gehardloop het as waaraan ons gewoond is.

Die Lions het vyf minute voor die einde die wendrie gedruk en het met 34-29 gewen.

Die Cheetahs het wel groot pak gekry teen die Stormers, en die Bulls het in die laaste 20 minute teen die Chiefs uitgesak, maar by al die spanne was daar ʼn bereidwilligheid om te hardloop.

Die wedstryd op Ellispark was geweldig hard, met hoë intensiteit en het gewemel van vaardighede waaroor ons spelers gereeld afgekraak word.

ʼn Goeie skare van net minder as 40 000 het die puik wedstryd bygewoon

Jaco Kriel word deur die Sharks se voorspelers gestuit (Foto: GB Jordaan)

Die drie, met so ’n Sonny Bill-uitgee deur Andries Coetzee na Kwagga Smith toe, was kenmerkend van dié vaardighede – veral toe die Blitsbok ná ’n systap na binne deur die gaping gesnel en toe met pragtige tydsberekening vir Jaco Kriel op ’n lopie van sowat 40 meter weggestuur het.

Die Lions was voor, en die Sharks kon hulle nie inhaal nie.

Die Sharks se 19-jarige losskakel Curwin Bosch was weer uitmuntend. Hy het groot manne soos Rohan Janse van Rensburg tromp-op  van voor af geloop, 19 punte aangeteken wat ʼn strafdoel van sowat 65 meter en ʼn skepdoel ingesluit het, en nog ʼn lang skepdoel van sy eie gebied teen die regoppaal vasgeskop.

Bosch het geskitter met feitlik alles wat hy gedoen het.

Die Sharks se slot Etienne Oosthuizen is net voor rustyd met ʼn geelkaart afgestuur nadat hy ʼn tweede keer ʼn teenstander om die nek in ʼn losskrum gespeel het. Die eerste keer is die drie van sy span wat die Sharks 20-3 sou laat voorloop het, gekanselleer.

Rohan Janse vn Rensburg ontvang die bal vir nog een van sy sterk lopies (Foto: GB Jordaan)

Nadat Oosthuizen afgestuur is, het die Sharks, benewens die strafskop vir die oortreding na die hoekvlag wat ʼn doel vir die Lions gebring het, ook nog ʼn drie in sy afwesigheid afgestaan.

Dit was die Lions se negende opeenvolgende oorwinning op Ellispark.

Puntemakers –

Lions (13) 34: Drieë: Malcolm Marx, Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies 2. Strafdoele: Jantjies 4. Skepdoel: Andries Coetzee.
Sharks (16) 29: Drieë: Coenie Oosthuizen, Kobus van Wyk. Doelskoppe: Curwin Bosch 2. Strafdoele: Bosch 4. Skepdoel: Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Geluk vir die lions ,jammer die sharks se twee puik drieë is nie toegeken nie maar so gaan dit maar in rugby

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.