Lions: ‘Dit is goed om tuis te wees’

Ivan van Rooyen en die Lions is opgewonde om weer in Suid-Afrika rugby te speel. Foto: Marty Melville.

Burger Odendaal, Lions-kaptein, het ná hul laaste Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Ulster gesê dat die Johannesburgers nou begin glo dat hulle saam met die beste spanne in die reeks kan gesels.

Nou kry hulle die naweek op Ellispark die geleentheid om nie net saam met ’n Europese span te gesels nie, maar sommer terselfdertyd vir hulle mooi te verduidelik dat dinge anders in Afrika gedoen word.

Die Lions speel Sondag gasheer vir die Cardiff Blues en Ivan van Rooyen het ’n sterk span vir die kragmeting gekies.

Die blitsige Edwill van der Merwe sal sy Lions-buiging op linkervleuel maak, terwyl Willem Alberts en Tiaan Swanepoel ook weer terug ná beserings is.

“Dit is goed om weer terug by die huis te wees. Ons het ’n paar stewige oefensessies ingewerk en die spelers is beslis opgewonde om op hul tuisveld te speel,” het Van Rooyen gesê.

Hoewel die Lions steeds foute in hul vorige vier wedstryde in Europa gemaak het, was hulle baie meer fisiek as in die afgelope Curriebeker-reeks en hulle het gereeld hul teenstanders gepak.

Die Cardiff-kragmeting bied ’n gulde geleentheid om nie net daarop voort te bou nie, maar ook om die wedstryd te wen.

Afskoptyd is Sondag om 16:00 en die wedstryd sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Lions: EW Viljoen (heelagter), Rabz Maxwane (regtervleuel), Wandisile Simelane (buitesenter), Burger Odendaal (kaptein en binnesenter), Edwill van der Merwe (linkervleuel), Fred Zeilinga (losskakel), André Warner (skrumskakel), Francke Horn (agtsteman), Vincent Tshituka (flank), Jaco Kriel (flank), Reinhard Nothnagel (slot), Ruben Schoeman (slot), Carlu Sadie (stut), Jaco Visagie (haker) en Sti Sithole (stut). Plaasvervangers: PJ Botha, Morgan Naudé, Ruan Dreyer, Willem Alberts, Ruhan Straeuli, Morné van den Berg, Matt More en Tiaan Swanepoel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Josua ·

Die Leeus se probleem lê by skrumskakel en klaar al vier wedstryde waar hulle verloor het is daar waar die probleem was en waarom hulle wedstryd na wedstryd dieselfde ou gebruik maak nie sin nie sy pa het seker aandele by die leeus want hy ken net twee maniere van speel is 1. skop die bal weg 2. gee die opposisie kans om hul verdedigings lyne in plek te kry op aanval en verdediging voor hy besluit wat om met die bal te maak. Van der Berg moes lankal die nomer een skrumskakel geword het en toegelaat geword het om sy spel te speel en die ander by hom aangepas het dit is wat Ackers en swys met Faf gedoen het maar Van Rooyen verstaan dit duidelik glad nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.