Lions druk 14 keer, Stormers en Kings wen naelskraap

Die Lions se kaptein Jaco Kriel bars deur een van die vyf onsuksesvolle duikslae op pad na sy eerste drie. (Foto GB Jordaan)

Hardlooprugby en meer drieë is waarvoor gevra is – en miskien is hierdie versugting van ondersteuners bevredig met die ses eersterangse wedstryde wat die naweek deur Suid-Afrikaanse spanne gespeel is.

Nie minder nie as 40 drieë is in die ses Superspanne se vier wedstryde gedruk en in die eerste twee kwarteindstryde van die SuperSport-reeks is ook 27 aangeteken.

Die rugby wat die Sunwolves Saterdag op Ellispark teen die Lions opgedis het hoort nie op hierdie vlak nie; die Kings het teen die Jaguares weer ʼn hele paar monde gesnoer, en ook die Stormers het die Cheetahs in die laaste minute hartseer gelaat.

Lions vs Sunwolves

Die wedstryd op Ellispark het amper soos sewesrugby gelyk. Die Lions het met 94-7 gewen in ʼn wedstryd waar daar altyd ʼn man by was om die bal verder te voer teen die Japanners wat ʼn derde van hulle duikslae (161) verbrou het.

Ross Cronjé druk die Lions se eerste drie na sy span se eerste monsterskrum (Foto: GB Jordaan)

Dit was lekker om die Lions se meestal suiwer hantering te sien. Die skrums was ʼn mors van tyd want jy’t die indruk gekry die Sunwolves het nie daarin belang gestel uie. Hulle is in hierdie faset absoluut vermorsel.

Ruan Ackermann het goed op agsteman ingeskakel en hard gewerk terwyl Jaco Kriel en Kwagga Smith die bal gedra het, en hoewel die teenstand baie eina was, het die lostrio mekaar goed aangevul in die afwesigheid van die beseerde Springbokkaptein Warren Whiteley.

Die geheelindruk is egter dat die Lions in hierdie ideale wedstryd daarvoor mekaar gou gevind het na die vyf weke se aflê weens die toetsvenster toe tien van hulle die Franse in die toetsreeks help klop en nog drie vir die SA A-span gespeel het.

Courtnall Skosan het die balverloor,aar sy vaart van sy eie doellyn af om ‘n skop op die volg was indrukwekkend (Foto: GB Jordaan)

Rustyd was die telling 35-0 na vyf doele, ondanks ʼn slapte in die laaste tien minute voor blaastyd, en uiteindelik het die Lions 14 drieë gedruk – dus nege na rustyd.

Puntemakers –

Lions (35) 94: Drieë: Ross Cronjé, Kwagga Smith 2, Jaco Kriel 2, Elton Jantjies, Akker van der Merwe, Ruan Combrinck 3, Courtnall Skosan, Faf de Klerk, Sylvian Mahuza, Ruan Ackermann. Doelskoppe: Jantjies 6, Combrinck 5, De Klerk
Sunwolves (0) 7: Drie: Uwe Helu. Doelskop: Jumpei Ogura

Ruan Combrinck op een van die lopies wat tot sy driekuns gelei het (Foto: GB jordaan)

Cheetahs vs Stormers

Die Cheetahs het met agt minute speeltyd oor nog met 34-33 teen die Stormers voorgeloop, maar soos so dikwels in die verlede het die Vrystaters toe weer verloor toe die Stormers se plaasvervanger-losvoorspeler Sikhumbuzo Notshe gaan druk het.

Die eindtelling was 40-34.

Die Stormers was met rustyd met 26-17 voor en het met rukke goeie rugby gespeel in wat in die geheel egter ʼn slordige wedstryd was.

Cheslin Kolbe het drie goeie drieë gaan druk, en die losskakel wat enkele weke gelede eers 19 geword het, Damian Williams, het in sy eerste wedstryd op die vlak indruk gemaak met sy kalmte en is ook met ʼn drie beloon.

Vir die verloorspan het die Boksenter Francois Venter uitstekend gespeel terwyl Clayton Blommetjies met goeie voetwerk en breekslae vorendag gekom het maar nie altyd sy spanmaats met aangee gesoek of gevind het nie.

Puntemakers –

Cheetahs 34 (17): Drieë: Reniel Hugo, Elandré Huggett, Clinton Swart, Raymond Rhule. Doelskoppe: Niel Marais 4. Strafdoele: Marais 2.
Stormers (26) 40: Drieë: Cheslin Kolbe 3, Damian Willemse, Seabelo Senatla, Sikhumbuzo Notshe. Doelskoppe: SP Marais, Cheslin Kolbe 4. 

Jaguares vs Kings 

Die Kings het vyf drieë teen die vier van die Jaguares in die Baaienaars se naelskraapse 31-30 oorwinning in Argentinië gedruk. Dus nege drieë.

Chris Cloete en Tyler Paul, die twee flanke, het die Jaguares by die afbreekpunte vasgevat en agterlangs het die blitse Makazole Mapimpi (2), Luzuko Vulindlu, Wandile Mjekevu hulle deel gedoen en vier keer gaan druk.

Die Kings was rustyd met 14-20 agter en het goed teruggeveg teen die tuisspan toe sake vir hulle kort na rustyd op 14-25 donker gelyk het. Maar met agt minute speeltyd oor was die Kings 31-25 voor en het die tuisspan eindelik hulle swak stelskopwerk berou.

Puntemakers

Jaguares (20) 30: Drieë: Juan Manuel Leguizamon, Emiliano Boffelli, Nicolás Sánchez, Joaquin Tuculet 2. Doelskop: Sánchez. Strafdoel: Sánchez.
Southern Kings (14) 31: Drieë: Makazole Mapimpi 2, Luzuko Vulindlu, Wandile Mjekevu. Doelskoppe: Lionel Cronje 4. Strafdoele: Cronjé.

Kwagga Smith, wat oral by was, druk na sy praglopie (Foto: GB Jordaan)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

So skeef getrek is die naam Superrugby dat dit seket nooit weer reg sal kom nie. Sunwolves bly in kompetisie maar as die media reg is moet die Kings vaarwel sê!!!
Daar is net een manier om dit Superrugby te kan noem en dit is niks meer as 10 spanne nie en dan sluit dit die Sunwolves en Jaquares uit!!!

Nico K ·

Ek weet daar is die gevoel die spanne moet soos NZ die bal heeltyd rondgooi. Maar kyk waar het dit die Cheethas gebring. Hulle het met hul rondgooiery die bal meestal in die Stormers se hande gegooi en ‘n paar drieë so weggegee. En daar speel NZ en die Britte toe skop rugby.

Josua Keys ·

En daarom het die All Blacks verloor!!! Naas Botha sindroom “Skop Rugby” het Suid Afrika se rugby opgemors en dit is waarom die Bulls ook huidiglik nog sukkel, skop rugby was so in ons spelers se kele in afgedwing en dit het duidelkik uitgekom met die laaste toets teen die Franse, Hougaardt onder druk wil alles wegskop en soms die opsies om hom gemis. Daar was n paar keer wat hy wou skop onder druk maar was genoodsaak om die bal te laat loop en dit het spelers in gapings ingesit wat nie daar sou wees as hy sou skop nie, wat ek hierby wil sê is dat ons skrumskakels opsies moet oorweeg voor hulle sou skop maar met die jare was dit so in hom ingedril dat hy soms die basiese goed vergeet. Die Goue Leeus skop amper nooit die bal onder druk nie net as daar nie opsies beskikbaar was nie, hulle speel eers die bal en skep spasie vir die skopper om die bal weg te kry en soms gebeur dit dat daar gapings oopgaan wat spelers op die voorvoet plaas sonder skop. Die laaste toets het die bokke amper Naas Botha rugby begin speel en vir n gedeelte van die wedstryd het dit slordig gegaan maar toe die skoppe verminder en meer takties begin raak was ons op die wen pad, dit is waarom die All Blacks en oorsee se spanne se hantering ook so goed is.

LOL ·

In All Blacks/Britse Leeus wedstryd het die swak weer en veld omstandighede hulle forseer om meer te skop? Ja Cheetahs is die mees optimistiese span met hulle “hardloop teen alle koste” beleid , maar nie genoeg vernuf om bal te behou. Maar juis oor die rede het hulle ondersteuners landswyd van ander “franchises”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.