Lions druk agt keer in Sondag-drieëfees teen Kings

Tyler Paul, die Kings se agsteman, dryf teen die Lions. (Foto :GB Jordaan)

Morsig, maar prettig. Wat Sondagvermaak betref was die Lions se 54-10 sege oor die Kings in Johannesburg met tye ‘n fees van foute, dog min sal kan stry dat dit wel vermaaklik was. Die rustydtelling was 19-3.

Albei spanne het  van meet af konserwatisme by die agterdeur gelos en besluit dat hul eie kwartgebied nie hul bereidwilligheid om aan te val sal onderdruk nie. Hierdie benadering het vir tientalle hanteringsblapse gesorg en die wedstryd was allermins ‘n vertoonkas vir kliniese rugby.

Wat betref kreatiwiteit … wel, dit is ‘n ander saak.

Die Lions se agt drieë getuig daarvan. Elton Jantjies se volmaakte skopaangee kort voor die 20ste minuut het Warren Whiteley gevind en hy kon vir Courtnall Skosan deurstuur nadat Andries Ferreira reeds in die tiende minuut sy doellyn-lus gaan les het.

Die Lions se skip is egter amper deur ‘n oomblik van waansin gesink toe Robbie Coetzee die Kings se Chris Cloete met die knie bygekom het. Eersgenoemde is met ‘n rooikaart en laasgenoemde met ‘n geelkaart gestraf.

Irne Herbst se geelkaart toe die horlosie nog nie eers behoorlike tot tien minute getel het nie, het ook nie tot die Kings se hoop op ‘n skokoorwinning bygedra nie.

Om met 14 man te speel is egter nie ‘n probleem as jy Kwagga Smith in jou geledere het nie. Dié woelige sesflank en speler van die wedstryd het kort voor die rustydfluitjie geblaas het reeds sy sewesvaardighede vir een van sy twee pragdrieë ten toon gestel.

Coetzee se plaasvervanger, Malcolm Marx, het kort na die omdraaislag oorgebars vir sy 12de Super-drie en met Jantjies wat met die moeilike doelskop suksesvol was, was die Lions se 26-3 ʼn berg net te hoog vir die Kings om te klim.

Stut Jacques van Rooyen het in die 50ste minuut sy naam op die telbord gekry en Smith het nie op hom laat wag om sy tweede te druk nie. Jantjies se korrel het kookwater gebly, wat gewis vir die Bokafrigter, Allister Coetzee ʼn riem onder die hart sal wees.

‘n Troosdrie deur Luzuko Vulindlu met ʼn onderskepping het die handvol Kings-ondersteuners rede om te glimlag gegee. Faf de Klerk en Andries Coetzee was nie daarmee gediend nie en het onderskeidelik in die 77ste minuut en met tyd verstreke die Lions se brul tot in Port-Elizabeth laat dreun.

Puntemakers –

Lions (19) 54: Drieë: Andries Ferreira, Courtnall Skosan, Kwagga Smith (2), Malcolm Marx, Jacques van Rooyen, Faf de Klerk, Andries Coetzee. Doelskoppe: Elton Jantjies (5), Andries Coetzee (2).
Kings (3) 10: Drie: Luzuko Vulindlu. Doelskop: Pieter-Steyn de Wet. Strafdoel: De Wet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Boetman ·

Die Lions speel prag rugby, maar wat ñ jammerte vir die Sondag rugby.

Henk Stander ·

Ek het nie gekyk nie en sal ook geen Sondag rugby kyk nie. As ons dit nie kyk nie sal hulle dit nie speel nie.

Jy is reg, die Lions speel wonderlike rugby.

Frans C ·

Die wedstryd het my laat dink dat dit dalk een of ander proefwedstryd is, so ongestruktureerd was dit. Of dit gaan werk in uitspeelwesstryde is ‘n ander saak.

Jakkalas ·

Ek dink hulle is bewus dit is nie uitspeel wedstryde nie. Hulle sal wel meer klinies moet wees wanneer daai games kom.

Dirk ·

Daar is weragrig net wen span in SA en dis die Lions. Bitter pil on te sluk met wete dat ons n awsome afrigter gaan verloor. Great Job Lions.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.