Lions en Cheetahs moet begin spiere bult; Sharks het te veel skietgoed

Rohan Janse van Rensburg - sal hy die Lions op koers help kry? (Foto GB Jordaan)

Rohan Janse van Rensburg – sal hy die Lions op koers help kry? (Foto GB Jordaan)

Die Lions en die Cheetahs sal albei moet uithaal as hulle Saterdag oorwinnings wil behaal, terwyl die Sharks, ondanks ’n ietwat omstrede spankeuse, te sterk vir hulle buurman, die Kings, behoort te wees.

Was spankeuse Lions se eintlike probleem?

Na die Lions se verpletterende nederlaag verlede week teen die Jaguares in Argentinië het die Johannesburgers se afrigter, Johan Ackermann, ’n klomp veranderings aan sy span aangekondig vir Saterdag se kragmeting teen die Reds op Ellispark.

Maar is dit regtig die groot probleem?

Dat die skakelpaar van Elton Jantjies en Faf de Klerk en die flankpaar van Ruan Ackermann en Jaco Kriel, en natuurlik Rohan Janse van Rensburg wat almal hierdie week in die opdrafvyftiental is, ’n verskil gaan maak, is nie altemit nie.

Ook die voorry van Ruan Dreyer, Malcolm Marx en Jacques van Rooyen is manne waarmee mens oorlog toe kan gaan.

Maar was verlede week se nederlaag bloot net die gevolg van sogenaamde tweedekeusespelers wat gespeel het? Is verlede week se opdrafflanke, Kyle Brink en Kwagga Smith, regtig tweedekeusepelers? En die skrumskakel Ross Cronje?

Of is dit dalk dat die Lions nog nie heeltemal vanjaar aan die gang gekom het nie? Teen die Jaguares was die verdediging bra effens. Is dit toe te skryf aan verkeerde spelers of ’n gebrek in dié afdeling van die spel?

Die aaklige waarheid is dat die Lions nie in hulle eerste wedstryd van die seisoen, teen die Cheetahs, beïndruk het nie. Die volgende week het hulle wel ’n wegholoorwinning behaal, maar ook die Waratahs toegelaat om vyf keer te gaan druk.

Hoe dit ook al sy, die Lions moet Saterdag vergoed vir daardie Argentynse nederlaag en wys dat hulle vanjaar weer werklike titelaanspraakmakers is.

Om dit reg te kry, sal die senior spelers in die span soos onder meer Jantjies, De Klerk, Franco Mostert en Lionel Mapoe en die kaptein Warren Whiteley hulle hande moet opsteek.

Die Reds het verlede week, ʼn mens kan byna sê hartverskeurend, in die doodsnikke teen die Crusaders verloor. Hulle het ’n punt om te bewys – en kan nie as ʼn waardige teenstander misken word nie.

Spanne –

Lions: 15. Andries Coetzee, 14. Madosh Tambwe, 13. Lionel Mapoe, 12. Rohan Janse van Rensburg, 11. Courtnall Skosan, 10. Elton Jantjies, 9. Faf de Klerk, 8. Warren Whiteley (kapt.), 7. Ruan Ackermann, 6. Jaco Kriel, 5. Franco Mostert, 4. Andries Ferreira, 3. Ruan Dreyer, 2. Malcolm Marx, 1. Jacques van Rooyen. Bank: 16. Robbie Coetzee, 17. Dylan Smith, 18. Johannes Jonker, 19. Lourens Erasmus, 20. Kwagga Smith, 21. Ross Cronje, 22. Jaco van der Walt, 23. Harold Vorster.
Reds: 15. Karmichael Hunt, 14. Izaia Perese, 13. Samu Kerevi, 12. Duncan Paia’aua, 11. Eto Nabuli, 10. Quade Cooper, 9. Nick Frisby, 8. Scott Higginbotham, 7. George Smith, 6. Hendrik Tui, 5. Kane Douglas, 4. Rob Simmons, 3. Sam Talakai, 2. Andrew Ready, 1. James Slipper (kapt.) Bank:16. Stephen Moore, 17. Markus Vanzati, 18. Taniela Tupou, 19. Lukhan Tui, 20. Adam Korczyk, 21. James Tuttle, 22. Jake McIntyre, 23. Chris Kuridrani.

Afskop: 17:15

Sharks behoort Kings maklik te troef

Die Sharks was verlede week indrukwekkend in hul oorwinning oor die Waratahs in Durban.

Saterdagaand ontvang hulle hul buurman, die Kings, op Kingspark en anders as wat die naam van die stadion aandui, is dit te betwyfel of die Kings ’n bondgenoot in Durban gaan hê.

Selfs sonder die tuisspan se beseerde losskakel en kaptein, Patrick Lambie, het die afrigter Robert du Preez steeds ’n gedugte span aangewys.

Die agsteman Tera Mtembu sal die span aanvoer, terwyl die jong Benhard Janse van Rensburg die nommertientrui gaan dra.

Die besluit om Janse van Rensburg, wat verlede jaar vir die NWU-Pukke in die Varsitybeker-reeks uitgedraf het, bo Curwin Bosch te kies wat verlede week meer as skaflik op losskakel vertoon het toe hy Lambie vervang het, sal dalk ’n paar wenkbroue laat lig.

Nietemin begin Bosch op heelagter en bevind die veelsydige Garth April, wat ewe tuis op heelagter en losskakel is, hom op die bank.

Vir die Sharks sal dit belangrik wees om met ’n totale aanslag alle moontlike planne van die besoekers die hoof te bied.

En die Kings? Die flank Chris Cloete het verlede week teen die Stormers gewys dat daar nie veel is wat sy gelyke as baljagter is nie.

Sommige kan nie uitgepraat raak oor die losskakel Lionel Cronje se deugde nie;  ander meen weer hy is ʼn baie oorskatte speler. Hy kan Saterdag sy kritici se monde snoer.

Spanne –

Sharks: 15. Curwin Bosch, 14. Kobus van Wyk, 13. Lukhanyo Am, 12. Andre Esterhuizen, 11. Odwa Ndungane, 10. Benhard Janse van Rensburg, 9. Cobus Reinach, 8. Tera Mtembu (kapt.), 7. Jean-Luc du Preez, 6. Jacques Vermeulen, 5. Ruan Botha, 4. Stephan Lewies, 3. Lourens Adriaanse, 2. Chiliboy Ralepelle, 1. Thomas du Toit. Bank: 16. Stephan Coetzee, 17. Juan Schoeman, 18. John-Hubert Meyer, 19. Etienne Oosthuizen, 20. Daniel du Preez, 21. Michael Claassens, 22. Jeremy Ward, 23. Garth April.
Kings: 15. Masixole Banda, 14. Makazole Mapimpi, 13. Berton Klaasen, 12. Waylon Murray, 11. Alshaun Bock, 10. Lionel Cronje, 9. Louis Schreuder, 8. Ruaan Lerm, 7. Andisa Ntsila, 6. Chris Cloete, 5. Wilhelm van der Sluys, 4. Irne Herbst, 3. Ross Geldenhuys, 2. Michael Willemse, 1. Schalk Ferreira (kapt.) Bank: 16. Kurt Haupt, 17. Schalk van der Merwe, 18. Justin Forwood, 19. Tyler Paul, 20. Stefan Willemse, 21. Johan Steyn, 22. Pieter-Steyn de Wet, 23. Johann Tromp.

Afskop: 19:30

Cheetahs sal harde bene kou in Argentinië

Die laaste jaar of wat laat ’n besoek aan Argentinië al wat rugbyspeler is se broek bewe.

Ook seker met reg, want of dit nou hulle nasionale span of die Jaguares is, trap die Argentyne spanne se tjank in hulle agterplaas af.

Die Cheetahs sal lugtig wees vir hulle wedstryd Saterdagaand (SA tyd) teen die Jaguares.

Die Jaguares het verlede week die Lions met ongenaakbare duikwerk en hul bereidwilligheid om met die bal te hardloop ontsenu.

Die grondslag vir ’n Cheetahs-oorwinning sal voorlangs gelê moet word. Francois Uys, wat die beseerde Justin Basson op slot vervang, is ’n ervare kalant wat die vuur voorlangs sal moet stook.

Oorheers die Vrystaters voorlangs kan die vlugvoetige vleuel Rayno Benjamin en die heelagter Clayton Blommetjies agterlangs die afrondingswerk doen.

Die skrumskakel Tian Meyer sal die Cheetahs Saterdag aanvoer.

Spanne –

Jaguares: 15. Joaquín Tuculet, 14. Ramiro Moyano, 13. Matías Orlando, 12. Jerónimo de la Fuente, 11. Santiago Cordero, 10. Juan Martín Hernández, 9. Gonzalo Bertranou, 8. Leonardo Senatore, 7. Tomás Lezana, 6. Pablo Matera, 5. Matías Alemanno, 4. Marcos Kremer, 3. Felipe Arregui, 2. Agustín Creevy (kapt.), 1. Santiago García Botta. Bank: 16. Julián Montoya, 17. Lucas Noguera Paz, 18. Ramiro Herrera, 19. Marcos Kremer, 20. Ignacio Larrague, 21. Javier Ortega Desio, 22. Felipe Ezcurra, 22. Santiago González Iglesias, 23. Bautista Ezcurra.
Cheetahs: 15. Clayton Blommetjies, 14. Rayno Benjamin, 13. Michael van der Spuy, 12. Clinton Swart, 11. Ruan van Rensburg, 10. Niel Marais, 9. Tian Meyer (kapt.), 8. Niell Jordaan, 7. Oupa Mohoje, 6. Henco Venter, 5. Francois Uys, 4. Armandt Koster, 3. Tom Botha, 2. Elandré Huggett, 1. Danie Mienie. Bank: 16. Joseph Dweba, 17. Charles Marais, 18. Johan Coetzee, 19. Carl Wegner, 20. Paul Schoeman, 21. William Small-Smith/Boom Prinsloo, 22. Shaun Venter, 23. Fred Zeilinga.

Afskop: 21:40

Saterdag in Australasië

Die Hurricanes speel Saterdagoggend (SA tyd) gasheer vir die Highlanders. Die manne van Wellington het verlede week teen die Chiefs vasgeval en sal oorgehaal wees om te wys hulle kan hulle kroon suksesvol verdedig.

Die Highlanders aan die ander kant het verlede week die Blues net-net geklop. Maar ʼn Nieu-Seelandse derby is nie maklik voorspelbaar nie.
Afskop: 8:35

♦  Die Waratahs en die Brumbies speel Saterdagoggend (SA tyd) teen mekaar. Die Brumbies het verlede week teen die Force gewen, terwyl die Waratahs, na neerlae teen die Sharks en die Lions, hulle veldtog op die wenpad sal wil terugkry.
Afskop: 10:45

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hasie ·

Sunwolfes is Vrydagaand beroof van punte deur swak TV skeidsregter beslissing. As die bal vorentoe uitgegee word, is dit ‘n fout en dan gee jy ‘n skrum, nie ‘n drie nie.

Frans C ·

Waar Suid Afrika se rugbykrag versprei lê oor die aantal deelnemende unies.is die rugbykrag van Argentinië gekonsentreer in een span.Dit gaan dus moeilik vir ‘n span soos die Cheetahs
om hul op hul tuisveld te klop.

Frans C ·

Die Reds het met die Blues van die beste agterlyne in die kompetisie.As die Lions weer so swak verdedig wag daar ‘n pak slae op hulle.Hopelik kan hul die Reds voorlangs vasvat
en met die hulp van die lugdruk die een beklink.

WitBlits ·

Die Sharks behoort die Kings maklik te troef sê die skrywer en amper sien die Sharks hulle “potholes” met 19-17!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.