Lions en Stormers dis albei lustelose vertonings op

So gevaarlik soos die Lions Saterdag in die eerste helfte van hulle wedstryd teen die Kings in Port Elizabeth gelyk het, net so versukkeld het hulle in die tweede helfte voorgekom.

Die Lions het die Kings met 42-19 geklop en in die proses ses drieë gedruk, maar veral in die tweede helfte teleurgestel.

Hoewel die Kings nooit regtig gelyk het of hulle die wedstryd kan wen nie, het hulle tog van tyd tot tyd uitstekende spel opgedis om die Johannesburgers onder druk te plaas.

Hier moet die name van die tuisspan se heelagter Malcolm Jaer genoem word. Sy  vaart, oog vir ’n gaping en stewige verdediging maak hom ’n opwindende ster vir die toekoms.

In die eerste helfte het die Lions se losskakel Elton Jantjies uitgetroon en sy agterlyn skitterend weggestuur.

Die vyf drieë van die Johannesburgers in die eerste helfte het die belofte van ’n wegholoorwinning ingehou, iets wat egter nie in die tweede helfte verwesenlik is nie.

In die tweede helfte het die besoekers hulle aan te veel foute skuldig gemaak.

Dat die gewoonlik betroubare senter Rohan Janse van Rensburg drie keer hanteerfoute gemaak het, wys dalk dat die Lions nie die regte intensiteit in die tweede helfte gehad het nie.

Die flank, Jaco Kriel, was oudergewoonte bedrywig met die bal in die hand en het die Baaiers se verdediging maal sonder tal in die lug laat gryp.

Die Kings se flank Chris Cloete het sy soveelste skittervertoning van die seisoen gelewer. Dié kêrel wéét hoe om besit by die losgemale om te keer.

Dat die Lions eers vyf minute voor die einde van die wedstryd hulle eerste punte van die tweede helfte kon aanteken sê iets van die Kings se veggees. Iets wat Saterdagmiddag by Lions afwesig was.

Puntemakers –

Kings (12) 19: Drieë: Andisa Ntsila, Yaw Penxe, Malcolm Jaer. Doelskoppe: Lionel Cronje 2.
Lions (35) 42: Drieë: Madosh Tambwe 2, Malcolm Marx, Elton Jantjies, Jaco Kriel, Harold Vorster. Doelskoppe: Jantjies 5, Andries Coetzee.

Stormers hul eie grootste vyand

Swak verdediging was amper die Stormers se ondergang in Singapoer teen die Sunwolves.

Die Japanners, steeds segeloos vanjaar, het boonop met die geloof op die veld gedraf dat hulle die besoekers kan verras. En hulle het byna.

Op die ou end vlei die eindtelling van 44-31 die Stormers en vertel dit nie die volle verhaal van hoe naby hulle aan ’n neerlaag gekom het nie.

Die manier waarop die tuisspan se senters Timothy Lafaele en Derek Carpenter gapings in die besoekers se verdediging gevind het, sal Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, tot kommer laat.

Drie vinnige drieë vroeg in die wedstryd het dan ook die Sunwolves met 24-10 laat voorloop. Selfs toe die tuisspan 24-20 voor was, was ’n eerste oorwinning egter nog binne bereik van die Japanners.

In die tweede helfte het die Stormers se skakelpaar, Dewaldt Duvenage en Robert du Preez, met inklimspel en slim skoppies die druk op die Sunwolves begin sit.

Boonop het die Kapenaars se Springbokhaker, Bongi Mbonambi, ’n keer of wat omgekeerde besit bewerkstellig en in die vastelos gewoel en hulle stadigaan ʼn greep help gee.

Seabelo Senatla was waarskynlik die besoekers se beste speler, nie net met die opwindende lopies wat hy dan en wan ingekry het nie, maar ook vir sy algehele spel.

Dat Senatla een keer deur die Sunwolves se heelagter, Jamie-Jerry Taulagi, afgestamp is, is so. Maak die een keer hom ’n slegte verdediger? Beslis nie.

Die Sunwolves het gewys dat die Stormers nie onoorwinlik is nie. Die gebreke in die Kapenaars se verdediging kan teen sterker spanne fataal wees. Hulle het eers in die laaste vier minute met twee drieë die wedstryd in die sakkie gesit.

Bjorn Basson se onvermoë vroeg in die wedstryd om ’n bal in die Sunwolves se doelgebied te bemeester wat ’n sekere drie sou wees, sal dié veteraan sy kop in skaamte laat sak. In die doodsnikke van die wedstryd het hy darem vir die glips vergoed toe hy oorgeduik het.

Puntemakers –

Sunwolves (24) 31: Drieë: Derek Carpenter 2, Shota Emi, Liaki Moli. Doelskoppe: Jumpei Ogura 4. Strafdoele: Ogura
Stormers (20) 44: Drieë: EW Viljoen, Rynhardt Elstadt, Wilco Louw, Dewaldt Duvenage, Bongi Mbonambi, Bjorn Basson. Doelskoppe: Robert du Preez 4. Strafdoele: Du Preez 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Herman ·

Van wanneer af is 42 – 19 nie ‘n wegholoorwinning nie, Mnr Kok.

Kosie ·

Goeie oorwinning vir die Stormers. ‘n Paar ouens het ‘n ruskans gekry vir die wedstryd.

Josua Keys ·

As die Lions in volle vaart was het hulle die Kings n grooter loesing gegee en dit sou nog slegter gelyk het vir SA rugby, soos die Stormers, Sharks, Cheethas en Bulls die naweek gespeel het dink ek ons moet liewer nou al die Bok toere kanselleer vir die jaar want ons gaan weer soos amateurs lyk. Bring terug die Super 14 dit dan het die ouens n rede om hul kant te bring in die Currie Beker en dit sal die super 4 spanne van Suid Afrika ook dwing om beter Rugby te speel of jy is die daaropvolgende jaar uit die Super reeks, Dit het immers die Lions wakker laat skrik n paar jaar terug daarom glo ek dit sal ons rugby weer op standard kry.

Frans C ·

Die Lions/Kings-wedstryd toon duidelik die verskil in benadering tussen Suid Afrikaanse spanne en NZ.As die NZ-span jou eers onder het, hou hul nie op nie maar trap jou net verder in die modder in. Vergelyk Hurricanes teen Kings en Lions teen Kings.

Suid Afrikaanse spanne latt teveel toe dat teenstanders terugkom in die wedstyd.Los lyk dit of as ‘n SA-span as hy voor is besluit dat dit genoeg gedoen het om die wedstryd te wen
en dan amper ophou speel.

Die Stormers se benadering is amper netso en skrik soms te laat wakker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.