Lions gaan van vyfde na tweede rat

Argieffoto van Jordan Hendrikse. Foto: GB Jordaan.

Die Lions het vandag weg van die huis teen die Dragons  gemaak soos wat Tom Cruise in die rotsklimtoneel van Mission Impossible II gedoen het: Hulle het verbete vasgeklou.

Nadat hulle met ʼn vyfderatvertoning in die eerste helfte vorendag gekom het, het hulle vir die grootste gedeelte van die laaste 40 minute in tweede rat rondgesuiker. Tog het hulle steeds genoeg gedoen om die Europese Uitdaagbekerwedstryd met 30–25 te wen.

Vroeër is die wedstryd na Ystrad Mynach verskuif omdat die sintetiese oppervlak van Rodney Parade – die Dragons se tuisveld – gevries was.

Die skuif het die Lions egter nie ontspoor nie en hulle het soos ʼn wegholtrein in die eerste helfte weggetrek.

Quan Horn het die besoekers se eerste drie gedruk nadat Willem Alberts goeie werk in die aanloop tot die Lions-puntesessie gedoen het, terwyl Edwill van der Merwe gewys het dat daar inderdaad geen plaasvervanger vir spoed is nie.

Tussendeur was Jordan Hendrikse dodelik akkuraat met sy stelskopwerk – selfs al het hy ʼn paar keer nie die kantlyn met sy strafskoppogings gevind nie.

Die jong losskakel het uiteindelik 20 van sy span se punte aangeteken.

In die tweede helfte het die Dragons met nuwe vuur en ywer gespeel. Hulle het selfs in die doodsnikke van die wedstryd op die besoekers se doellyn geboer.

Tog het die Lions hierdie wedstryd gelukkig reeds in die eerste helfte gewen. Dit was hul eerste oorwinning in ’n hele paar probeerslae.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Quan Horn en Edwill van der Merwe. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafskoppe: Hendrikse (6).

Dragons: Drieë: Will Reed, Aki Seiuli, Jordan Williams en Rio Dyer. Doelskop: Will Reed. Stafskop: JJ Hanrahan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Weet nie of die span fiks genoeg is om 80 minute hoë tempo rugby te speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.