Lions gee darem ’n brul(letjie) in Johannesburg

Foto: GB Jordaan.

Ná verlede week se treurmare in Buenos Aires het die Lions ’n wenkaart broodnodig gehad om hul Superrugby-seisoen op koers te kry. En vandag op Emirates Airline-park was dit weliswaar nie baie mooi nie, maar die Johannesburgers het net genoeg gedoen om die Reds met 27–20 te troef.

Op ’n sopnat veld, wat balhantering en hardlooprugby maar moeilik gemaak het, het Ivan van Rooyen se span vier drieë gedruk om hul eerste oorwinning van die 2020-seisoen op hul tuisveld te vier.

Kyk, dit was glad nie ’n aanskoulike wedstryd nie en die tuisspan se voorry (voormalige Springbok Jannie du Plessis inkluis) het swaar teen die Reds se Taniela Tupou, Alex Mafi en JP Smith geleef.

Foto: GB Jordaan.

Met die Lions se skrum pertinent in trurat en met die bal gladder as ’n tweedehandsemotorverkoper se mond, sou jy verskoon kon word as jy gedink het die voorspelers sou vir die drieë verantwoordelik wees.

Maar Tyrone Green het met sy dartellopies beïndruk en hy is beloon met twee goeie drieë in die eerste helfte. Hoewel hy nie sommer vir Makazole Mapimpi, Cheslin Kolbe of S’bu Nkosi uit hul Springboksale sal lug nie, kan Jacques Nienaber en sy Bok-bestuurspan nie anders as om sy vertoning raak te sien nie.

Foto: GB Jordaan.

Die Lions speel volgende Saterdag teen die Stormers in Johannesburg en hulle sal beslis aan hul skrumwerk in die komende week moet skaaf; anders kan Steven Kitshoff en Frans Malherbe hulle opdons.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Tyrone Green (2), Marnus Schoeman en Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafskop: Jantjies.

Reds: Drieë: Jock Campbell, Tate McDermott. Doelskoppe: Bryce Hegarty (2). Strafskoppe: Hegarty (2).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pofadder ·

Die Aussies is veronderstel om nie regtig goed te skrum nie, maar die Reds het die Leeus se skrum totaal verwoes. Dit was vernederend om te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.