Lions hardloop vir Griekwas weg

Courtnall Skosan. Foto: GB Jordaan.

Baie mense het al oor die presiese verduideliking van “hardlooprugby” gewonder. En benewens ’n flouerige antwoord soos “die teenoorgestelde van staprugby”, kon ondersteuners net na gisteraand se wedstryd tussen die Lions en Griekwas op Ellispark gekyk het om – vanuit ’n Suid-Afrikaanse konteks, altans –hierdie konsep beter te verstaan.

Die twee spanne het vir 92 punte en 13 drieë in ’n aksiebelaaide stryd gesorg en die Lions het die besoekers met 61 – 31 geklop.

Griekwas se moeilikheid het sommer vroeg in die eerste helfte begin toe Stefan Willemse (flank) met ’n geel kaart van die veld gestuur is.

Foto: GB Jordaan.

Dit het die Lions nie lank geneem om munt hieruit te slaan nie en ná hulle – soos te verwagte – die besoekers in ’n skrum oordonder het, het vinnige hande vir Courtnall Skosan weggestuur.

Die 29-jarige linkervleuel was deurgaans ’n doring in Griekwas se vlees en hy het uiteindelik drie keer in die wedstryd die besoekers se doellyn oorgesteek.

Al twee spanne het nie geskroom om met die bal te hardloop nie en veral die tuisspan se agterlyn was in die eerste helfte gevaarliker as John Travolta op die dansbaan. Tog het hul voorspelers ook lekker saamgesels en net ná rustyd het die Lions ’n paar voorspelerdrieë gedruk.

Griekwas verdien egter ook lof vir die wyse waarop hulle gespeel het en James Verity-Amm se drie was ’n juweel toe hy Elton Jantjies se skop uit die lug gepluk het en dwarsdeur die Lions se verdediging gehardloop het.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Courtnall Skosan (3), Dan Kriel, Stean Pienaar, MJ Pelser, Jaco Visagie, Wandisile Simelane en Reinhard Nothnagel. Doelskoppe: Elton Jantjies (8).

Griekwas: Drieë: Zak Burger, HJ Luus, James Verity-Amm en Tinus de Beer. Doelskoppe: George Whitehead (4). Strafskop: Whitehead.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.