In ʼn wedstryd waar die Lions in elke faset behalwe die verdediging indruk gemaak het, het die besoekende Waratahs Saterdag op Ellispark baie van die plesier met hulle herhaalde oortredings bederf.
Daar is 13 drieë in die wedstryd gedruk wat die Lions met 55-36 gewen het. Die Lions het met rukke van hulle beste hardlooprugby uitgestal, en die Waratahs het met hulle heelwat minder goeie besit dit nagedoen.
Die gevolg was agt drieë deur die tuisspan (vyf voor rustyd) en vyf deur die Waratahs wat vir baie toeskouerplesier gesorg het.
Wat albei spanne se afrigtingspersoneel sal laat nadink, is die verdediging wat aan albei kante aan die dun kant was.
Die skeidsregter Jaco van Heerden het sy hande vol gehad met die Waratahs. By die afbreekpunte het hulle male sonder tal nie hul eie gewig gedra nie; of vasgeklou aan die bal; of die bal probeer uitstoei nadat dit reeds ʼn losskrum was.
By die skrums het hulle te vroeg weggebreek, skeef gedruk, te vroeg begin stoot … en in die lynstane het hulle die springer gespeel voor hy op die grond was en ook sy ondersteuners by ander geleenthede ‘uitgehaal’.
Hulle is 15 keer gestraf – en dit sou meer gewees het as die Lions nie talle kere oortredings met voordeel uitgebuit het nie.
Skouer-têkkels, ʼn duidelike boorvat en ʼn gedurige gestry oor elke beslissing met die skeidsregter het nie gehelp om hulle fokus te behou nie.
Twee geelkaarte was die gevolg – en dit moes veel meer gewees het. Die Lions se Franco Mostert is ook vir herhaalde oortredings met ʼn geelkaart af.
Aan die positiewe kant: die Lions het uitstekend geskrum. Hulle rolmale van die lynstane af was baie goed en het tot die drieë van Warren Whiteley, Ruan Ackermann en Malcom Marx gelei.
Die Lions se besit is egter 16 keer omgekeer en hulle het 15 uit 80 duikslae gemis.
Oor die lekker in die wedstryd: die Lions het soos ʼn mens van hulle verwag het, gehardloop wanneer hulle kon – soms miskien toe dit nie die regte opsie was nie. Struktuur het ʼn keer of wat in dié gevalle verlore gegaan.
Uitblinkers is moeilik om uit te sonder.
Tog was die grootste lekker miskien Rohan Janse van Rensburg se kragtige afstamp van twee teenstanders en sy uitgee na Jaco Kriel wat dit terug aangegee het vir Janse van Rensburg se tweede drie; en ook die jong Springboksenter se eerste drie, waar hy geen teenstand gehad het omdat die beplande beweging van die Lions 100% reg en op volle vaart deur die agterlyn uitgevoer is nie.
♦ Janse van Rensburg se ma is Woensdag na ʼn lang kankerstryd oorlede, maar hy het besluit om nogtans Saterdag te speel.
Puntemakers –
Lions (33) 55: Drieë: Warren Whiteley, Ruan Ackermann, Rohan Janse van Rensburg 2, Andries Coetzee, Ross Cronjé, Courtnall Skosan, Malcolm Marx. Doelskoppe: Elton Jantjies 6. Skepdoel: Jantjies
Waratahs (24) 36: Drieë: Rob Horne, Michael Hooper, Bryce Hegarty, David McDuling, Israel Folau. Doelskoppe: Reece Robinson 3, Hegarty. Strafdoel: Robinson
Die Lions sal moet leer om nie toe te laat dat opponente telkens terug in die wedstryd kom nie.Dus verdediging moet opgeknap word.