Lions in eindstryd ná stadige wegspring

Malcom Marx druk sy tweede drie nadat die Lions weer deur die Waratahs gedryf het. (Foto: GB Jordaan)

Die groot skrik in die eerste nege minute het ʼn aanvanklike opgewonde skare op Ellispark sommer vroeg-vroeg tot stilte gedwing, maar dit was op die ou einde tog nie nodig nie.

Die Lions, nie deurgaans op hul heel beste nie en veral in die lynstane ietwat wankelrig, het die Waratahs in die tweede halfeindstryd van die Superrugby-reeks met 44-26 geklop en verseker dat hulle aanstaande Saterdag in hul derde opeenvolgende eindstryd, en die tweede na mekaar teen die Crusaders, sal speel.

Aanvanklik was die verdediging nie op peil nie. Gate is gelos, en die Waratahs, wat duidelik daarop uit was om konfrontasie voorlangs te vermy, het met letterlik als gehardloop.
Hulle was gou met 14-0 voor, maar toe het die Lions die leisels vasgevat.

Drie drieë het gevolg en die besoekende span is gereeld deur die skeidsregter Glen Jackson by veral die afbreekpunte gestraf danksy die goeie omkeerwerk van Malcolm Marx, Kwagga Smith en eintlik sommer al hul voorspelermaats.

Die Waratahs se agterlyn is snoep met besit van voorlangs behandel, hoewel die Lions, voorste lynstaanspan in die Superreeks, vreemd genoeg in dié faset gesukkel het. Hulle het twee balle verloor, en Franco Mostert-hulle is boonop ʼn hele paar keer gedwing om met klapballe hul lynstaanbesit te wen.

Daar was nietemin oorgenoeg dryfmaalbewegings, een van feitlik 40 meter, voordat die Lions die bal verloor het.

Foute, foute, foute… en dít saam met ʼn stadige begin sal teen die Crusaders enige wenhoop verydel.

In die skrums het die Lions hard gebrul. Talle strafskoppe het vandaar af na hulle kant gekom en ʼn mens lek klaar lippe af vir aanstaande naweek se skrumstryd nadat die Saders die Hurricanes ook in die skrums swaar laat leef het.

ʼn Uitspeelwedstryd is daar om gewen te word. Dit is immers albei spanne se doelwit, en daar is darem tyd vir die Lions om die bepaalde foute te probeer regskaaf.

Puntemakers

Lions (19) 44: Drieë: Kwagga Smith (2), Aphiwe Dyantyi, Malcolm Marx (2), Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies (4). Strafdoele: Elton Jantjies (2).

Waratahs (19) 26: Drieë: Ned Hanigan, Israel Folau, Tom Robertson, Jake Gordon. Doelskoppe: Bernard Foley (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

LHS ·

Drie jaar in die eindstryd. Minste spelers in die bokspan. Mooi man, dit is mos hoe alles funksioneer in SA. Onomwonde, die probleem lê by die bokafrigters. Snaaks dat n span wat nou al vir 5 jaar nie name koop nie maar spelers afrig om rugby te kan speel 3 jaar namekaar die top SA span is. Daar is presies net een manier om die volgende wèreldbeker te kan wen, gaan soebat Ackerman om terug te kom, betaal vir Soois net wat hy wil hè, kies ten minste 10 Leeu spelers vir die beginspan, nog twee of drie op die bank. Erasmus kan maar wat se name kies, jy kan n speler afrig of jy kan nie.

Johan ·

LHS…in n ideale wereld is ek jou grootste ondersteuner. Ongelukkig, bly jy en niemand, in n ideale wereld nie. In jou geval is sport polities gedwing om te maak soos hy wat septer swaai. En daardie vooreg is nie in die hand van n persoon wat rugby of “R.I.V” Springbok rugby ter harte dra nie. Kyk, ek het soos menige SA rugby spelers na 400 wedstryde seker genoeg brein skade opgedoen om myself te diskwalifiseer van enige komentaar, maar ek is n SAkaner in bloed, hardkoppig soos jy glo ek dat ongelukkig gaan n man soos Kwagga, wat sy hart uit gespeel het, nie n begin span haal nie a.g.v “die” wat die septer swaai. Ek ondersteun nou die Iere, en dit is die mees onnatuurlike gevoel om teen die “Bokke” te skree…maar dan word ek herrinner dat dit eintlik net die Proteas is. What a game Lions! Sterkte volgende naweek. Mag julle SA se naam hoog hou in die see van onregvaardigheid.

Flojo ·

Wat help dit om jaar na jaar in die finaal te speel, maar nie kan wen nie?

Anton Kld ·

Ja Flojo en wat help dit die ander spanne wat speel en NIE die uitspeel wedstryde haal nie.??

lollie ·

Hoe het die Bokke verlede jaar gevaar met ‘n magdom Lions in die span? So terloops – die Lions kon nog nie een Nieu-Seeland span vanjaar klop nie.

Frans C ·

Suid Afrikaanse rugby was nog nooit so swak soos tans nie.As die kompetiesie suiwer op wenpersentasie (aantal wedstryde gewen)gegaan het,moes slegs NZ spanne dit om die beker uitgespook het.
Die Lions en Waratahs het elk slegs 9 van hul 16 wedstryde gewen,dws 56 %.
Vergelyk dit met Crusaders 14 (87%) Hurricanes en Chiefs 11 (69%) en Highlanders 10 (62%)
Was dit nie vir die konferensiestelsel nie sou geen Suid Afrikaanse span of Aussiespan
die paal gehaal het nie.Dit is tyd dat plaaslike rugbyondersteuners,kommentators en diegene inbeheer van die spel wakker skrik en daadwerklik iets doen om Suid Afrika op internasionale vlak meer mededingend te maak.Regtig Saru raak georganiseerd en bring
ons Superrugbyspanne op ‘n aanvaarbare vlak,al moet die provinsiale stelsel vir die doel geskrap word.

Gebeur dit nie en die uittog veral vanaf die Lions duur voort,gaan ek jukskei wat al 270 jaar beoefen word kyk.

Henry ·

Die antwoord is eintlik heel eenvoudig.
Suid Afrika sal nooit op gelyke voet met wie ookal kompeteer nie – solank as wat daar ‘n kwotastelsel in gebruik is wat hierdie droewe land op bykans alle terreine en vlakke kortwiek.
Ongelukkig is dit so polities inkorrek om dit hardop te erken, dat daar altoos allerlei ander redes vir ons geploetery gevind (moet) word.

Paul ·

Johan, ek sien vanoggend in ‘n nuusberig betreffend SA krieket, Faf, die kaptein van die Proteas sé hulle groei eerder as om te wen.

Niklaas ·

Daardie Crusaders het gespeel soos n geoliede masjien. Mag hul komende Saterdag n afdag beleef.

kas ·

In die hele crudaders span was daar twee spelers wat nie All Blacks is nie.Hoekom hulle word van jongs af blootstelling gegee en as daar dan ‘n speler weggaan is daar ‘n ander opgeleide speler wat hom vervang.Kyk maar hoeveel van hulle spelers het junior wereldbekerrugby gespeel.By ond moet ons net die kwotas reg kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.