Lions is Kwagga-loos; Bulls kry driemanskap terug

Kwagga Smith. Foto: GB Jordaan.

Saterdag is letterlik alles op die spel vir die Bulls en die Lions wanneer hulle mekaar op Loftus Versfeld in die laaste groepwedstryd van die 2019-Superrugbyreeks pak.

Om die stelling te maak dat beide spanne ’n ietwat wispelturige seisoen gehad het, is dalk die grootste eufemisme van die maand. Die Lions en die Bulls het die een oomblik soos bekerwenners gelyk (lees die Bulls teen die Sharks in Pretoria en die Lions teen die Stormers in Johannesburg), net om ’n naweek of wat later met ’n harde slag terug aarde toe te kom.

Die Bulls het tans 36 punte en die Lions 35 punte op die Suid-Afrikaanse punteleer. En hoewel nie een van die spanne ’n kat se kans staan om die Jaguares (46 punte) bo-aan die punteleer te onttroon nie, is ’n plek in die uitspeelrondes van die reeks op die spel.

Die wenner is so te sê verseker van hul plek, terwyl die verloorder maar weer volgende jaar sal moet probeer.

Die Lions sal egter die Jukskei-sprong sonder hul witwarm-losvoorspeler, Kwagga Smith, moet aanpak. Smith het sy dyspier in verlede week se wedstryd teen die Hurricanes beseer, terwyl Sti Sithole en Stephan Lewies ook nie vir die kragmeting beskikbaar sal wees nie.

Smith se onbeskikbaarheid is egter die grootste terugslag vir Swys de Bruin. Dié oudleerling van HTS Middelburg het vanjaar soos ’n Springbok gespeel en sy leierskapvaardighede was ook van groot waarde in Warren Whitely se afwesigheid.

Die Bulls sit egter self met ’n beseringskopseer of twee van hul eie.

Schalk Brits en Jason Jenkins sal die Transjukskei-derby weens beserings misloop, maar die Pretorianers kan weer vir Warrick Gelant, Rosco Specman en Duane Vermeulen kies.

Handré Pollard se span sal ook momentum aan hul kant hê te danke aan ’n goeie oorsese toer. Hulle het die Rebels geklop, terwyl hulle gelykop teen die Blues en die Highlanders in hul agterplase gespeel het.

Lions: Span moet nog aangewys word.

Bulls: Warrick Gelant (heelagter), Cornal Hendricks (regtervleuel), Johnny Kotze (buitesenter), Burger Odendaal (binnesenter), Rosko Specman (linkervleuel), Handré Pollard (kaptein en losskakel),  André Warner (skrumskakel),  Duane Vermeulen (agtsteman), Hanro Liebenberg (flank), Marco van Staden (flank),  RG Snyman (slot),  Jannes Kirsten (slot),  Trevor Nyakane (stut),  Jaco Visagie (haker), Lizo Gqoboka (stut). Plaasvervangers: Johan Grobbelaar, Simphiwe Matanzima, Wiehahn Herbst, Eli Snyman, Ruan Steenkamp, Ivan van Zyl, Manie Libbok, Divan Rossouw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frans C ·

@Kolla. By Gloucester sal jy Ruan Ackerman,Ruan Dreyer,Jaco Kriel en Franco Mostert vind.By Sale Sharks Rohan janse van Rensburg en Faf de Klerk.By Edinburg Jaco van der Walt. Andries Ferreira was op pad Hurricanes toe maar het beseerd teruggekeer.
Akker’ van der Merwe is na die Sharks.
Warren Whiteley, Jacobie Adriaanse, Lourens Erasmus ,Gianni Lombard,Kwagga Smith, Stephan Lewies en Sti Sithole is op die krukkelys.
Die Bulle behoort dus die wedstryd redelik maklik te wen

Swartwolf ·

Stem saam Frans, vraag is of die Stormers ‘n omgekrapte sharks sal kan klop….??

Frans C ·

@Kolla, ek het van Jacques van Rooyen vergeet. Die bring die getal spelers waarvan ek weet op 10 te staan.

Frans C ·

@Kolla het van Rooyen by Bath opgespoor. Waarom Jantjies bo Harold Voster op senter gekies is,sal net Swys de Bruin weet.Glo nie hy sal Bulls se senterpaar in toom kan hou.
Dink sal nog ‘n paar punte vir die Bulls by my Superbru voeg,waar dit nie te vrot gaan nie.
Net onder 210 in Suid Afrika en onder 260 wêreldwyd.

Dink vanoggend se vertoning van Hi-landers en Chiefs moet kommer by ander spanne
laat ontstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.