Lions kan doen met dié miljoen(e)

Foto: incompass.co.za

Foto: incompass.co.za

Wat `n lekker meevaller!

Die Lions en Stormers lag al die pad bank toe nadat hulle tot die kwarteindstryd (tuis) van die Superrugbyreeks deurgedring het, terwyl die Nieu-Seelandse spanne maar droë bek daarvan afkom.

Dis nog nie die groot boerpot nie, maar dis geld in die sakkie, omdat nie een van die spanne daarvoor begroot het nie.

Die Lions, wat Saterdag op Ellispark teen die Crusaders speel, moet volgens Sanzaar se regulasies die Crusaders met 80 000 Australiese dollar (R860 000) vergoed. Netso sal die Stormers, wat teen die Chiefs op Nuweland speel, hul teenstanders met R860 000 vergoed.

As die Lions tot die halfeindstryd deurdring, wat ook op Ellispark gespeel sal word, sal hul teenstanders R1 075 m kry en vir `n eindstryd R1 343 m. Daar word wel beraam dat die Lions R10 m kan inboet omdat hulle dalk nie tuis in `n eindstryd sal speel nie, maar niemand het drie maande gelede dit verwag nie.

Daar bestaan steeds `n kans dat `n eindstryd wel op Ellispark gespeel sal word, maar dan moet die Hurricanes in die kwarteindstryd (teen die Sharks) of die halfeindstryd in Wellington vasval.

Die Sharks het wel vroeër vanjaar die Hurricanes met 32-15 op Kingspark geklop, maar dit was die week nadat die ‘Canes die Lions met 50-17 op Ellispark verfomfaai het. Nou is die skoen aan die ander voet, die Sharks het eers Dinsdag na Nieu-Seeland gevlieg en is sonder hul Bok-losskakel Pat Lambie.

Sanzaar staan pa vir die spanne se vlugte, verblyf en etes en byna al wat die tuisunie moet opdok, is om `n bus te reël, die bagasie op en te laai en `n oefenveld (wat gewoonlik by `n nabygeleë skool is) vir een of twee oefeninge te reël.

Ellispark en Nuweland behoort albei volgepak te wees en hoewel  die prys vir halfeind- en eindstryd aansienlik duurder sal wees, kan die Lions en Stormers reeds Saterdag `n hele paar miljoen rand in hul sakke steek … en dan hang die geelwortel van `n halfeind of eindstryd ook nog voor hulle.

Dis hoekom dit so belangrik was om bo-aan die puntelys (of tweede te eindig) of soos in die Stormers se geval, eerste in hul groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.