Lions kry streepsuiker in Llanelli

Die Walliese Scarlets het die Lions Vrydagaand op Parc y Scarlets in Llanelli behoorlik uitgestof. (Foto: Scarlets Rugby/Twitter)

ʼn Groot kopskuif sal gemaak moet word oor hoe die Suid-Afrikaanse spanne oorsee in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) wil speel – anders gaan daar nog baie rooi gesigte wees.

Die Walliese Scarlets het die Lions Vrydagaand op Parc y Scarlets in Llanelli behoorlik uitgestof deur met 36 – 13 te wen nadat die tuisspan rustyd reeds met 20 – 6 voor was.

Ja, sal baie ondersteuners sê, wag maar totdat die Europese spanne in Suid-Afrika op Ellispark of Loftus Versfeld moet kom speel. Dán sal die skoen aan die ander voet wees.

Maar dit is nie waaroor dit gaan nie, want daar was groot agteruitgang in Suid-Afrikaanse rugby, veral sedert die spanne nie meer in die Superreeks speel nie.

Nie een van die vier Suid-Afrikaanse spanne in die VRK het die regte voorbereiding gehad nie en die feit dat dit die einde van die Suid-Afrikaanse seisoen is, dra by tot die lusteloosheid en tamheid.

Die Covid‑19-pandemie het ook ʼn baie groot rol gespeel, maar al die oorsese spanne is ook daaraan blootgestel.

Hoe kan ’n span wat 55% van die besit gehad het en gebiedsvoordeel (56% teenoor 44% volgens die VRK se statistieke) geniet het, net een drie druk en vier deurlaat?

Hoe kan ’n span wat baie minder duikslae gemaak het en met 89% van hul duikslae in die kol was, nie die mas opkom nie?

Die Lions kon nie by die toestande aanpas nie en hulle het vreemde foute begaan (soos om die bal in die eerste helfte twee keer oor die voorspelers se koppe in lynstane te gooi).

Die Lions het baie goed geskrum, maar wat van die ander basiese beginsels, asook besluitneming, speldissipline en die skep en gebruik van kanse?

Hier en daar was daar ʼn paar stukkies goeie ondernemende spel, maar watter spelpatroon wil die Lions volg en daarmee volhard?

Dalk is ʼn mens te kras, maar die gevaarligte flikker te helder om nie daarop ag te slaan nie.

Punte: Scarlets 36 (20): Drieë: Rob Evans, Tom Rogers (2), Steff Evans. Doelskoppe: Sam Costelow (2). Strafdoele: Costelow (4).

Lions 13 (6): Drie: Ruben Schoeman. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafdoele: Hendrikse (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.