Lions leef swaar maar kry bonuspunt

Malcolm Marx – uitblinker in elke faset (Foto GB Jordaan)

Die Lions was miskien nie gelukkig om te wen nie, maar hulle moes hard werk om die Force Saterdag in Perth met 24-15 onder te kry nadat Lions-ondersteuners met rukke in die tweede helfte seker maar taamlik benoud was.

Die Lions het egter die laaste agt minute of so, nadat die Wes-Australiërs kwaai gedruk maar met strafskoppe die besoekers blaaskans gegee het, gewys van watter stoffasie hulle gemaak is.

Elton Jantjies, wat op sy stukke was ondanks ʼn wisselvallige diens van Faf de Klerk wie se aangeewerk maar net nie van die vereiste gehalte is nie, het meer as twee minute ná die eindtoeter na ʼn sterk Lions-vyfmeterskrum deurgesny om die Lions se derde drie te druk.

Dit het vir die Lions ʼn moeilik gewonne bonuspunt besorg nadat Ian Prior vyf strafdoele vir die tuisspan deurgestuur het.

Die Force het, soos die Jaguares in albei hulle kragmetings gedoen het, met hulle opskietverdediging die Lions se driekwarte ontsenu. Daar was gevolglik te veel oordeel- en hanteringsfoute, en te veel balle is omgekeer of strafskoppe afgestaan.

Miskien, soos die Lionskaptein Warren Whiteley ná die wedstryd toegegee het, het die Lions te vroeg te dikwels wyd gespeel. Meer afwisseling en meer werk aanvanklik voorlangs sou die tuisspan se verdedigers op die agtervoet gehou het.

Kwagga Smit en Franco Mostert het hulle harte uitgeduik, Jantjies was soos gesê is goed, en Courtnall Skosan was elke keer gevaarlik wanneer hy die bal gekry het.

Maar die Lions se beste speler was Malcom Marx. Hoekom vir Bismarck du Plessis vir die Bokke terugbring soos daar bespiegel word?

Marx het balle omgekeer, goed by die lynstane ingegooi, goed met die bal gedryf, Skosan se drie met vinnige hande gemaak, ʼn wilde aangee van sy voet opgetel, en die teenstanders gereeld by die afbeekpunte van die bal gedryf.

En terloops, hoewel hy eintlik maar met die losgemale van lynstane af die man agterlangs is wat moet afrond, het Marx verlede week die eerste voorspeler in die ontstaan van die Superreeks in 1996 geword wat ʼn drie in ses opeenvolgende wedstryde gedruk het.

Puntemakers –

Western Force (9) 15: Strafdoele: Ian Prior 5
Lions: (14) 24: Drieë: Lionel Mapoe, Courtnall Skosan, Elton Jantjies. Doelskoppe: Jantjies 3. Strafdoel: Jantjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cum Laude ·

Hierdie artikel lees baie moelik. Swak skryfstyl met te lang sinne sonder leestekens.
Dankie tog vir die Lions!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.