Lions-plesier op Emirates Airline Park

Aphiwe Dyantyi duik oor vir een van die Lions se drieë: Foto: GB Jordaan.

Jy weet jou span het ’n goeie wedstryd agter die blad wanneer jou vertoning gesorg het dat van die ouer ondersteuners in die stadion op hul voete is.

Die Lions het vanmiddag ’n vyfstervertoning in Johannesburg gelewer om die Stormers met 41-22 af te ransel. Sodoende is hulle nou tweede op die Suid-Afrikaanse afdeling van die punteleer, terwyl die Kapenaars steeds laaste is.

Kwagga Smith en Kie. het duidelik die Elton Jantjies-tameletjie in die kleedkamer gelos en skitterspel op die veld gelewer. Jantjies is vroeër uit die beginvyftiental gelaat nadat hy die span se protokol gebreek het.

Smith – wat die kapteinsarmband gedra het – was ’n tier op die veld en sy avontuurlustige spel is met twee drieë beloon.

Sy mede-skoolmaat by HTS Middelburg, Andries Coetzee, het ook ’n kragdrie in die eerste helfte gedruk en die tuisspan het ’n rustydvoorsprong van 13-10 geniet.

Lionel Mapoe probeer deur die Stormers se verdediging te bars. Foto: GB Jordaan.

Hoewel die Stormers twee drieë in die tweede helfte gedruk het – te danke aan Herschel Jantjies en Joshua Stander – was die Lions net in ’n klas van hul eie.

Hul verdediging was rotsvas, verál toe die Kapenaars aanval ná aanval op die Lions-doellyn geloods het, terwyl Smith (weer), Courtnall Skosan, Aphiwe Dyantyi en Hacjivah Dayimani vir die punte gesorg het.

Jantjies se plaasvervanger op losskakel, Shaun Reynolds, was in die kol met vier doelskoppe en ’n strafskop.

Malcolm Marx, Lionel Mapoe en Dyantyi het pure Bok gelyk, terwyl Smith ’n definitiewe aanspraakmaker op hoër louere is. Hy verdien meer as net een toets in Washington.

Puntemakers:

Lions: Drieë: Kwagga Smith (2), Andries Coetzee, Aphiwe Dyantyi, Courtnall Skosan en Hacjivah Dayimani. Doelskoppe: Shaun Reynolds (4). Strafskop: Reynolds.

Stormers: Drieë: Johan du Toit, Joshua Stander en Hershel Jantjies. Doelskoppe: Stander (2). Strafskop: Stander.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Afrikaan ·

Laat mens wonder hoekom die swakskakel nie lankal protokol gebreek het nie…

alwyn burger ·

Kapteinsarmband!?. Is dit nie ñ sokkergebruik nie ?

Henry ·

Jis!
Leeus maak my banja lekker voel wanneer hulle sulke rugby speel. Hou so aan!
Eendag – wetie regtig wannir nie – gaan my geliefde Bulle ook weer rugby speel, wat my nog groter lekkerkry gaan sjee.

Frans C ·

Die wedstryd het gewys dat alle Suid Afrikaanse spanne sonder hul voorste spelers nie die mas kan opkom nie.Die skrif was aan die muur toe die Stormers se twee slotte van die veld af is en die Leeuspak die oorhand kry.

Wat verblydend is dat die Leeus uiteindelik iets van hul ritme en spelpatroon herwin het.

Dropkick ·

Daai oorgewig stutte van die stormers is ontbloot gister!

Karlahari ·

Ek hoor Sappi gaan die stommes borg.
Op papier is hulle n goeie span…..

Ursula ·

Geluk Leeus, die voor pak was uistekend , Kwagga is en bly n yster, Hoop Rassie sien dit raak.

witogie ·

Ek ondersteun net twee spanne: Die Bulle en wie-ook-al teen die stormers/wp speel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.