Lions pluk haas uit hoed met twee spanne teen Stormers

(Foto: LionsRugbyCo/Twitter)

In die ou dae het hulle dit sommer proewe genoem. Hoe anders kan ʼn mens Saterdagaand se kragmeting tussen die Lions en Stormers in die tweede Superondersteuners-kragmeting op Loftus Versfeld beskryf?

Vir die rekordboeke het die Stormers die Lions met 34-21 geklop nadat hulle rustyd met 20-7 voor was.

Voor rustyd het die Stormers se ysters, soos Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Stephen Kitshoff, JD Schickerling en Siya Kolisi maalvleis van die Lions gemaak, veral in die skrums.

Maar toe die Lions ná rustyd 15 vars plaasvervangers op die veld stuur, was die skoen aan die ander voet. Die plaasvervangers, meestal jong energieke spelers, was net die regte doepa om die moeë Stormers aan die slaap te vang.

Ewe skielik het die Lions beter geskrum, genoeg besit gekry en in ʼn stadium byna 65 persent besit en gebiedsvoordeel geniet.

Was dit in die gees van die spel?

Wel, die Lions het 15 plaasvervangers op hul spanlys gehad en eintlik was dit ʼn meesterskuif om met twee spanne te speel. Nou weet die jongelinge wat dit beteken om teen die hardebaarde te speel … en hulle het boonop die toets geslaag.

Boonop was eintlik niks op die spel nie en die spelers kon ná maande se frustrasie uiteindelik die spinnerakke afskud.

Iewers moes daar begin word, iewers moes daar ʼn streep in die grond getrek word, want die spelers kon nie meer langer aan ʼn lyntjie gehou word nie.

Die Stormers kan baie tevrede wees wat hulle in die eerste helfte vermag het. Hulle pak gaan weer hul sterkpunt wees en daar is ʼn rits vlugvoetige spelers agterlangs.

Ja, dalk wil Damian Willemse te veel op ou houtjie doen, maar aanwinste soos Warrick Gelant en die jeugdige Rikus Pretorius gaan nog baie waarde toevoeg.

Vir die Lions wag daar heerlike kopkrap op die afrigter, Cash van Rooyen. Moet hy van die ouer spelers in die opdsrafspan behou, of moet hy die jongelinge van die begin af inspan?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karlahari ·

My geld is op die Vrystaat.
Die kleuterskool van opkomende spelers en die aftree oord vir die harde baarde wat weet hoe om rugby te speel.

Frans ·

Jammer om te sê-dit was net die Bulle en Stormers se dag.Die Sharks was nie ‘n skaduwee van die span wat ‘n voorloper in die Super 14 reeks was voor Covid 19 en het die afwesigheid van ‘n aantal staatmakers gevoel.
Wie ook al die Leeus se voorspelers afrig sal moet begin om veral hul agsteman te leer om te skrum.
Die ou pleks van sy kop tussen die slotte in te druk-loer soos ‘n meerkat uit ‘n gat-bind nie die slotte saam nie en ondersteun hul ook nie.
Dit is mos lankal bekend dat slegs die span wat die bal ingooi die bal moet probeer haak.Die gevolg is dat skrumskakels die bal al hoe skewer ingooi-want 16 voete klop altyd 15 voete en wag spanne soos
die Stormers ook dat hul teenstanders die bal probeer haak en dus vir ‘n sekonde van balans is en hul dan opvou. ”
Oplossing -wysig reël dat beide spanne moet haak en herstel die balans-of wees tevrede dat skrumskakel die bal onder slotte se voete ingooi om die probleem te oorkom.

MakersMark ·

Ongelukkig verloor die Leeus se 2 de span teen die magtige kolisi en kie. Spul WP mktse sou bitter vêr teen die bulle verloor het.

Jakes ·

Die Leeus het n goeie klomp jong spelers met vele talent. Die Stormers lyk nie of hulle soveel diepte het nie en daar is baie beter no 6 flanke in die WP as Sya Kolisi. Het hom slegs eenkeer gesien toe hy agv n swak tackle n drie kon druk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.