Lions se gehalte te veel vir moedige ‘nuwe’ Bulls

Thembelani Bholi, flank van die Bulls, probeer ontsnap van Malcom Marx en ‘n spanmaat se verdediging. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Wedstryd duur 80 minute, maar hoewel die Bulls alles uitgehaal het, was dit Saterdag op Loftus in die goeie Superwedstryd teen die Lions nie genoeg nie.

Die Lions het vyf van hulle sewe drieë met hulle voorspelerspel, en veral die rolmaal, gedruk en verdien om te wen. Die telling was 49-35.

Die Bulls het vier goeie drieë gedruk, maar dit was nie genoeg om die bonuspunt van die Lions te weerhou wat drie drieë meer gedruk het nie.

Twee gelyktydige geelkaarte het die Bulls uiteraard gekortwiek, maar dit is teweeggebring deur die druk van die Lions met knaende aanvalle.

Handré Pollard, wat op kort kennisgewing kaptein en senter vir die Bulls geword het, skop voor die aanstormende Bokslot Franco Mostert wat as nr. 7-flank vir die Lions uitgeblink het.

Handré Pollard, wat op kort kennisgewing kaptein en senter vir die Bulls geword het, skop voor die aanstormende Bokslot Franco Mostert wat as nr 7-flank vir die Lions uitgeblink het.

Die wedstryd was ʼn voorbeeld van  ʼn goeie, ervare oue teen ʼn opwindende jongeling vol moed en waagmoed.

Die ervaring van die Lions, asook hulle selfvertroue en samespel, teenoor die Bulls se bouwerk aan ʼn nuwe span en wedstrydplan, gepaardgaande met gebrek aan ervaring in verskeie posisies, het ʼn groot rol in die uiteindelike groot oorwinning van die Lions gespeel.

Wat duidelik uit die wedstryd blyk – en toegegee dat daar nog baie rugby in die Superreeks voorlê – is dat die Lions vanjaar weer goed op pad na die uitspeelrondes is.

Daar was ook tekens dat die Bulls, nou slegs ʼn paar maande onder die afrigterskap van John Mitchell, reeds ʼn ander span is. Soos dit Mitchell twee jaar geneem het om die destyds sukkelende Lions om te keer, só is dit ook ʼn produk in wording dié.

Ross Cronje – sy diens was weer flink. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls het hulle deel tot die lewendige wedstryd met goeie rugby bygedra, en teen die einde twee uitstekende drieë gaan druk, al was die stryd toe al gewonne en die Lions se voet seker al van die pedaal. Dit het egter getoon wat die Bulls se ingesteldheid en vermoë is.

Aan die Lions se kant was Malcolm Marx eenvoudig uitmuntend, met die slotte Marvin Orie en Andries Ferreira benewens hulle vaste werk eintlik maar ekstra losvoorspelers met hulle vaardigheid en teenwoordigheid; en Franco Mostert was ʼn groot sukses as nr. sewe-flank.

En volle krediet aan Elton Jantjies wat weg van Allister Coetzee weer ʼn generaal was en ook op die verdediging sy kant gebring het, en Ross Cronjé wat skielik weer flinke diens lewer.

Puntemakers

Bulls (14) 21: Drieë: Johnny Kotze, Handré Pollard, Lizo Gqoboka, Travis Ismaiel. Doelskoppe: Marnitz Boshoff, Francois Brummer (2). Strafdoele: Boshoff (3).

Lions (21) 49: Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen, Marvin Orie, Malcolm Marx, strafdrie, Sylvian Mahuza, Ross Cronjé. Doelskoppe: Elton Jantjies (6) (strafdrie tel sewe punte en word nie verdoel nie).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Wat die wedstryd aanbetref wag daar baie werk op beide spanne.Die Lions ontmoet die Blues volgende week op hul tuisveld.Die Blues het een van die beste agterlyne in die kompetisie en die Leeus sal nie dit kan bekostig om hul soos die Bulle terug te laat kom in ‘n wedstryd nadat hul ‘n voorsprong opgebou het.
Die Bulle kan nie bekostig om die Reds te onderskat nie.Die span is wisselvallig,maar kan die wêreld aan die brand speel as hul eers hul neus voorkry.Sterkte vir die Bulle, dit is ‘n moeilike toer.

Emsa ·

Ja dis maar n moeilike toer vir almal.Sterkte aan ons Suid Afrikaanse spanne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.